News

Slange uit miershope gespit

Kinders wat slange uit miershope spit en daarmee speel, stel hulle lewens in gevaar.

Oral in die veld in Dennesig en Aerorand kan die skade aan miershope gesien word, waar seuns dit omgespit het.

“En wanneer die kinders gepik word deur slange, dan is dit mos die slang se skuld. Die slang stuur seker uit die miershoop uit ’n sms om vir die kind te sê om hom te kom uithaal,” het slangkenner, Victor Boshoff, hierdie week sarkasties opgemerk.

Hy is bekommerd omdat kinders hulle nie steur aan waarskuwings nie. Hy sê die kinders besef nie dat álle slange daarvan hou om te hiberneer in miershope nie.

Die Olyf swart huisslang is skadeloos.
Die Olyf swart huisslang is skadeloos.

“Nie net bruin- of swart huisslangetjies is in hierdie miershope nie. Dodelike slange soos die Mosambiekse spoegkobra, rinkhalse en die Stilletto (Bibron sypikslang) kan ook in miershope gekry word.”

Mnr. Boshoff sê dat hy in die week wat die skool gesluit was, ses oproepe van ouers gekry het om uit te vind met watter tipe slange hul kinders by die huis aangekom het. Hulle het vir hom foto’s van die slange gestuur om te identifiseer.

“En hulle het dit nie net opgetel nie, hulle het die slange uit miershope gehaal!”

Wat skrikwekkend is, is dat ’n Mosambiekse spoegkobra baie lyk soos ’n gewone bruin huisslang en dat die Bibron sypikslang met ’n Olyf Swart huisslang verwar kan word!

Die Mosambiekse spoegkobra as hy plat lê. Die slang word soms verwar met ’n bruin huisslang. Hierdie slang is egter dodelik.
Die Mosambiekse spoegkobra as hy plat lê. Die slang word soms verwar met ’n bruin huisslang. Hierdie slang is egter dodelik.

Die Mosambiekse spoegkobra kan dodelik wees as ’n persoon nie dadelik antiserum kry nie. Die gif is neuro- (val die senuweestelsel) en sitotoksies (wat die weefsel aanval).

As die Bibron sypikslang jou pik, het jy ’n ernstige probleem, want daar is nié antiserum vir hierdie slang beskikbaar nie. Buiten dat dit ’n geweldige pynlike byt is (byna soortgelyk aan ’n pofadder), is dié slang se gif sitotoksies.

Die weefsel verrot en die pasiënt kan slegs simptomaties behandel word (byvoorbeeld met kortisoon-behandeling).

Rinkhalse kom ook algemeen in miershope voor.
Rinkhalse kom ook algemeen in miershope voor.

Die sypikslang se tande is buite sy bek, wat beteken dat hy sy kop heen en weer kan beweeg en na al die kante toe kan byt. Hy moet dus onder geen omstandighede agter die kop vasgehou word nie.

Hy het melding gemaak van ’n voorval sowat twee jaar gelede waar ’n plaaslike laerskoolseun ’n slang skooltoe gevat het, met die idee dat dit ’n bruin huisslang was.

Toe mnr. Boshoff daarvan te hore kom, het hy gaan ondersoek instel en gevind dat dit ’n klein Mosambiekse spoegkobra was. “En hy het die slang met sy hande hanteer!”

’n Bruin huisslang.
’n Bruin huisslang.

Mnr. Boshoff het dit duidelik gestel dat ’n klein slangetjie net so giftig, indien nie giftiger is, as ’n volwasse slang. “’n Klein slangetjie is dodelik giftig, want hy het nie beheer oor sy gifkliere soos ’n volwasse slang nie.”

Dit is onwettig om slanghabitat te vernietig of om ’n inheemse slang aan te hou. Die skuldiges sal aangekla en voor die hof gedaag word.

Vir meer inligting, of om slange by huise of besighede te verwyder, bel mnr. Boshoff by 082 697 9954 of 083 628 4902. In die geval waar ’n slang verwyder moet word, vra mnr. Boshoff dat mense die slang deurentyd moet dophou, sodat hy kan weet waar om die reptiel uit te haal.

Die Stiletto, ook die Bibron Sypikslang genoem, lyk net soos die swart huisslang, maar is uiters giftig.
Die Stiletto, ook die Bibron Sypikslang genoem, lyk net soos die swart huisslang, maar is uiters giftig.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button