News

Bakkie-diewe vas na jaagtog

Drie voertuigdiewe wat twee nuwe bakkies by Solly’s Groblersdal gesteel het, se planne is in die wiele gery toe hulle kort daarna tydens ’n jaagtog vasgekeer en gearresteer is.

Me. Nelia Rossouw van Solly’s Groblersdal het aan die Daller vertel dat een van die petroljoggies van Sasol, mnr. Paulus Reba, Sondag omstreeks 13:00 ’n verdagte voertuig (VW Polo) by Solly’s Groblersdal se hek gesien het.

Hy het ondersoek gaan instel en gesien dat hulle aan die hek peuter.

Hulle het vir hom gesê dat hy eerder moet weggaan. Volgens hom het hulle ’n vuurwapen by hulle gehad, maar daar is nie bevestig of al drie die verdagtes gewapen was nie.

Konstabel Sannie Makua by die wit Chevrolet Utility waar dit vir vingerafdrukke deursoek is.
Konstabel Sannie Makua by die wit Chevrolet Utility waar dit vir vingerafdrukke deursoek is.

Die booswigte het die slot van die hek geknip en ingegaan na die werkswinkel se roldeur wat hulle oopforseer het.

Een van die verdagtes het in die werkswinkel inbeweeg en gekyk watter voertuie sleutels inhet.

Twee bakkies het nog hulle sleutels ingehad, ’n wit Isuzu KB250 enkelkajuit en ’n wit Chevrolet Utility.

Twee van die diewe het in die bakkies geklim en met dit uitgejaag.

Tydens die inbraak het die alarm afgegaan.

Die VW Polo wat by Uitspanning, naby Dennilton omgeslaan het.
Die VW Polo wat by Uitspanning, naby Dennilton omgeslaan het.

 

Volgens me. Rossouw het Loskop Alarms kort na die twee bakkies uit is, ingekom om ondersoek in te stel.

Sy sê dat sy en haar man, a/o Mickey Rossouw, toevallig by haar werk verby gery het nadat hulle teruggekeer het vanaf Marble Hall. Hulle het opgemerk dat die hek wat gesluit moet wees, oop staan en het besluit om ondersoek in te stel, waarna hulle Loskop Alarms se reaksiebeampte ook daar gekry het.

’n Polisieman wat agter Solly’s Groblersdal bly, a/o Makoba (naam onbekend), het volgens me. Rossouw die diefstal sien gebeur en die twee bakkies en VW Polo agterna gesit.

A/o Makoba het Groblersdal polisie gekontak vir bystand, wat ’n jaagtog tussen Groblersdal en Dennilton afgegee het.

Die VW Polo, waarin een van die verdagtes weggejaag het, het in die jaagtog by Uitspanning, naby Dennilton, omgeslaan.

Volgens mnr. Gerhard Müller van 24/7 Towing, het die verdagte wat in die VW Polo gery het, uitgespring, waarna die dief met die Isuzu hom opgelaai het.

Die drie verdagtes is met ’n spanpoging deur Groblersdal- en Dennilton polisie in Dennilton vasgekeer en gearresteer.

Inwoners het ook bygestaan om te help met die arrestasies.

Die wit Isuzu KB250 enkelkajuit wat teruggekry is.
Die wit Isuzu KB250 enkelkajuit wat teruggekry is.

Volgens me. Rossouw het slegs die Isuzu KB250 ligte skade aan die buffer opgedoen, maar die Chevrolet Utility het geen skade nie.

Die twee bakkies het laat Vrydagmiddag van hulle Middelburg tak af gekom en daarom is die bakkies met hul sleutels in die werkswinkel parkeer.

Sy het hul dankbaarheid uitgespreek teenoor almal wat gehelp het om die bakkies terug te kry, maar veral aan a/o Makoba vir sy vinnige optrede.

Vingerafdrukke is op die toneel by altwee bakkies gekry, waarna die polisie die twee bakkies teruggeneem het en 24/7 Towing die VW Polo na die polisiestasie toe gevat het in Groblersdal.

Ashwin Waterson (24), Darian Gold (30) en Abraham Mabena (28) het Dinsdag vlugtig in die Landdroshof in Groblersdal verskyn. Die saak is uitgestel tot vandag (Vrydag) vir formele borgaansoek.

You can read the full story on our App. Download it here.
Check Also
Close
Back to top button