Update: Frikkie vas in Zim

Bekende sakeman Frikkie Lutzkie word in Zimbabwe aangehou nadat sy helikopter amper ’n maand gelede in die land neergestort het.

Dit is op hierdie stadium onduidelik waaroor hy aangehou word. Dit volg nadat sy helikopter op die plaas Doddieburn gedurende Mei in ’n ongeluk verwoes is.

Lutzkie het telefonies aan die Middelburg Observer voor sy arrestasie gesê dat dit ’n menslike fout was wat vir die botsing verantwoordelik was en dat hy die regte prosedures gevolg het na die ongeluk.

In ’n persverklaring het mnr. Lutzkie gesê dat hy na die ongeluk terug na Suid-Afrika gekom en die Zimbabwiese owerhede per epos van die ongeluk in kennis gestel het. Die wrak is begrawe om te verhoed dat dit ’n gevaar inhou vir mense in die omgewing.

Hy het gesê dat owerhede, wat op die plaas aangekom het om na die wrak te kyk, geweier het om telefonies met hom te praat.

Een van sy werknemers, Middelburg inwoner Pieter Marais, en die Doddieburn plaasbestuurder, Lourens Botha, is volgens hom van hulle paspoorte ontneem nadat Marais gaan ondersoek instel het op Doddieburn.

Die Southern Eye het berig dat die twee mans in hegtenis geneem is nadat Innocent Tawanda Hamandishe van Immigrasie hulle ondervra en bevind het dat hulle in Zimbabwe werk en nie daar is vir sake en vakansie soos op hul permitte aangedui nie.

Hul moes glo hul paspoorte inhandig. ’n Verhoordatum is vasgestel vir 10 Junie.

Daar word beweer dat mnr. Lutzkie se plaas, Doddieburn, tans deur Zimbabwiese owerhede dopgehou word.

’n Groep Russiese kliënte, waaronder die eienaar van MTN Rusland, is tans op die plaas.

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version