Van vreugde beroof

"Sy is in die Here se hande in gebore." Jo-Dine Windell, wat glo haar baba dogtertjie Hayley is doodgebore na nalatige optrede by die Middelburg Hospitaal, sê "sy vat die lewe dag vir dag".

Haar kind se dood het haar beroof van wat veronderstel was om ‘n tyd van vreugde en geluk en nuwe lewe te wees. Nou ervaar sy net verlies.

Die gebeure, vandat sy die eerste kraampyne gevoel het, tot sy haar kind by die lyksbesorger gaan was het, is nog helder in haar geheue.

“Ek het ingegaan hospitaal toe, toe ek begin kraampyne kry. Die dokter het my ondersoek en beveel om te lê met ‘n suurstofmasker op. Hulle het op my gegil as ek probeer opstaan. Hy het vir my gesê dat hy my die volgende dag gaan ontslaan met fake labour as ek nog nie gekraam het nie.”

Die volgende oggend het die nuwe skof se verpleegsters haar ondersoek en gesê dat sy reeds een sentimeter ontsluit is.

“Die verpleegster het vir my gevra hoekom ek nie die vorige aand rondgeloop het nie omdat ek dan vinniger sou ontsluit. Sy het my en my baba se hartklop geneem en vir my gevra of ek nie bietjie koffie of tee wil drink om die baba se hartklop te boost nie. Hulle het my ontslaan al het hulle geweet Hayley se hartklop was swak.”

Dokters by die Witbank Hospitaal kon geen hartklop meer vind nie. Een het direk aan Jo-Dine gesê dat die nalatigheid by die Middelburg Hospitaal verantwoordelik is vir die verlies van haar baba se lewe.

“Hulle het gesê dat suurstof die slegste ding is vir ‘n baba met ‘n swak hartklop. Dit is nie die Middelburg Hospitaal wat sleg is nie, dit is die personeel wat daar werk.”

Jo-Dine en Hayley se pa, Ruan van den Berg, probeer nou om iemand te kry om hulle te help om die personeel wat haar hanteer het verantwoordelik te hou vir hul dade.

“Dit is nie net met my wat dit gebeur het nie. Dit gaan met ander mense ook gebeur.”

Hayley is verlede Donderdagmiddag tydens ‘n intieme seremonie begrawe.

Kommentaar op die storie van baba Hayley het nog gru-stories oor die Middelburg Hospitaal na vore laat kom.

‘n Vrou wat haarself net as Annetjie voorgestel het, sê dat sy iemand anders Woensdag 7 Mei hospitaal toe gevat het vir besoektyd om 15:00. Sy het gehoor hoe iemand histeries gil en uitgestap om te gaan kyk.

In die gang het ‘n man in sy 20’s gestaan. Hy het aan Annetjie vertel dat hy vir sy pa kom kuier het.

Toe hy in die kamer kom was daar ‘n laken oor sy pa se kop getrek. Toe hy dit aftrek het hy sy pa dood in sy bed aangetref.

Niemand het daaraan gedink om die familie te laat weet dat die man reeds 13:30 dood is nie. Verpleegsters het die lyk net so tussen ander pasiënte in die saal gelos.

“Die man se vrou het vroeër die week vir my vertel dat hy 63 was en bloot moes ingaan vir ‘n brain scan. Hy het nooit weer daar uitgekom nie. As so iets met my moes gebeur, sou hulle twee lyke gehad het!”

Exit mobile version