Oosthuyzen moet nou groente verkoop om te oorleef

'n Proefbeampte het getuig oor Willem Oosthuyzen se persoonlike omstandighede.

Die hof het gelas dat die proefbeampte se naam nie genoem mag word nie.

Sy het Oosthuyzen se persoonlike omstandighede genoem as iemand wat in Graad 10 uit die skool is om te gaan werk. Die gesin het baie rond getrek vir sy pa, ‘n dieselwerktuigkundige, se werk.

Hy is sy werk en huis kwyt toe hy op die saak voor die hof gearresteer is. Sedert hy op borg vrygelaat is verkoop hy groente en vrugte om sy gesin te ondersteun.

Die proefbeampte het gesê dat korrektiewe toesig Oosthuyzen in staat sou stel om sy gesin te ondersteun en ook om fondse te genereer om die R400 000 wat Victor Mlotshwa siviel van hulle eis, te kan betaal.

Sy vrou, Chane, het probeer om die gesin te ondersteun terwyl haar man in die tronk was. Sy kon egter net ‘n minimumloon werk bekom wat nie eens haar brandstofgeld huistoe en terug sou kon dek nie.

Die beampte het getuig dat Oosthuyzen berou vir sy aksies getoon het en wens dat hy die horlosie kon terug draai.

Adv. Wayne Gibbs, wat vir Oosthuyzen optree, sê dat Oosthuyzen se berou, gemik is op die aksies wat hy erken hy gepleeg het. Dit behels om vir Mlotshwa in ‘n kis te sit in plaas daarvan om hom na die polisie te vat.

Oosthuyzen het self die getuiebank betree en die proefbeampte se verslag bevestig.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version