Crime

Adv. Robert Molokoane se betoog

Adv. Robert Molokoane het gesê dat die hof nie moet vergeet dat 'n jong lewe in 'n kis gesit en amper verlore was nie.

Hy het gesê dat die voorval ‘n situasie weerspieël wat dikwels op plase en in die omgewing plaasvind.

“Die verswarende omstandighede in hierdie saak is baie meer as die versagtende omstandighede.”

“Hierdie tipe voorvalle skeur wonde van die verlede oop, omdat dit rasgedrewe is.”

Adv. Molokoane sê dat dit herinner aan al die onreg wat op grond van velkleur gepleeg is.

“Almal het die reg tot menswaardigheid. Mlotshwa was in ‘n kis gesit.  Ons het gesien hoe hy skree en pleit. Daar was geen genade, en daar was geen berou. Ons het dit gesien.”

Adv. Molokoane sê dat die hof gehoor het dat hulle besluit het om die kis te gebruik omdat hulle geweet het swartmense is bang daarvoor.

Hy sê dat die gemeenskap verdeel is deur die voorval en dat almal se oë op die hof is om te sien wat met die oortreders gaan gebeur.

Adv. Molokoane sê dat Jackson ‘n gevaar vir sy eie kinders is. Hy voer aan dat sy getuienis dat hy niks met die video verkeerd gesien het nie, dui dat hy sy kinders aan so iets sou blootstel. As dit nie vir sy vrou was wat versoek het dat hy dit van sy foon afvee nie.

Hy sê dat hy wel dink dat daar ‘n voorgeskrewe vonnis is vir aanranding met die opset, maar dat hy nie die hof gaan voorsê oor watter vonnis opgelê moet word nie.

Hy sê dat die hof tronkstraf tot 10 jaar of ‘n boete van R40 000 kan oplê.

Die staat wil mense van kleur saambring. Almal se oë is op wat met hierdie saak gaan gebeur.

 

 

 

Back to top button