Crime

Dief ‘uit lug’ gevang

'n Vermeende skaapdief is vasgetrek nadat boere en 'n plaaslike sakeman kragte saamgespan het.

Drie skape is helder oor dag by Willie Fourie in die Elandslaagte omgewing gesteel.

Mnr. Fourie se kinders het vir hom vertel dat ‘n vreemde motor drie skape in die kattebak gelaai het. Hy het die verdagte motor gaan soek en dit opgemerk toe dit teen ‘n hoë spoed op ‘n grondpad gejaag het.

Die motor, met drie verdagtes daarin, het naby ‘n T-aansluiting beheer verloor en gerol. Boere uit die omgewing is gemobiliseer om te help om die verdagtes te vang.

Die hulp van Wayne van Rooyen, ‘n sakeman in Middelburg, is ingeroep. Hy en sy seun, Gavin, was oppad gimnasium toe, toe hul die boodskap kry dat daar ‘n behoefte aan ‘n vliegtuig is.

Pa en seun het hul oefenplanne net daar laat vaar en vliegveld toe gejaag. Hulle het die wêreld uit die lug gefynkam en met behulp van boere die land waarin een van die verdagtes wegkruip, geïsolleer.

Gavin het gesien waar die verdagte wegkruip en boere is toe met behulp van aanwysings uit die lug tot by hom gelei.

Twee ander het daarin geslaag om tot by die Somapepa dorpie te vlug. Die een wat vasgetrek is, se vlugtog is vertraag omdat sy skoene tydens die ongeluk uitgeval het en hy kaalvoet die veld ingehardloop het.

“As dit nie vir die vliegtuig was nie, sou ons nie eers een kon vang nie,” het een van die boere op die toneel gesê.

Daar word vermoed dat die skaapdiewe ‘n informant op mnr. Fourie se plaas het. Die skape is vooraf gevang, vasgebind en versteek.

” Die arrogansie van hierdie diewe om helder oor dag op jou plaas rond te ry en jou goed te steel is verbysterend. Waar gaan dit eindig? En is dit nie ‘n duidelike teken dat hulle geen vrees vir die gereg het nie?”

Nie een van die betrokkenes wou toestemming gee dat hul name gepubliseer mag word nie.

“Vanaand lees hy ook die koerant. Ek is bang as hy my naam daar lees, dan kom pla hy my vrou en kinders in die nag.”

• By nog ‘n plaas aangrensend aan die Somapepa woongebied word daar so erg skape gesteel dat David en Martie van den Berg dit nie eers meer wil waag om Middelburg toe te kom vir sake nie, om nie eens te praat om by iemand te gaan kuier of om met vakansie te gaan nie.

Daar raak weekliks skape by hulle weg. Al kon boere Maandag ‘n verdagte vastrek, blyk dit nie dat dit ander diewe afskrik nie. Dinsdag is daar weer gepoog om by die Van den Berg egpaar skape te steel uit die trop wat reg langs hul huis loop.

“As jy dit waag om dorp toe te gaan is hulle blitsig daar. Jy kan net nie meer keer nie,” vertel mev. Van den Berg. Sy sê dat veediewe lyndrade knip en dan sommer die draad wat hulle geknip het gebruik om die skape wat hul steel vas te bind.

Hulle bly in die Bankfontein omgewing en grens so te sê aan die Somapepa woongebied.

• Daar kon nie voor druktyd vasgestel word of die verdagte wat gevang is, aangekla en in die hof verskyn het nie.

Back to top button