Man versmoor in hospitaal

Die angs in sy oë en die roggelgeluide kort voor hulle oupa gesterf het, sal 'n gesin altyd bybly. Hulle soek antwoorde vir die gebeure Saterdag by die Middelburg Hospitaal.

Me. Mandy Pretorius vee aanmekaar trane af: “As ek geweet het hy gaan doodgaan by die hospitaal, het ek met ‘n stofsuier die slym uit oupa James se mond probeer suig!”

Mnr. James Hall (77) is Sondag in die hospitaal oorlede.

Sy seun, James (jnr), skoondogter, Cheryl en Mandy Pretorius het hulle na die Observer gewend. “‘n Mens kan dit net ‘n doodshospitaal noem!” het me. Pretorius met hul aankoms by die koerant uitgeroep.

Mnr. Hall, wat alzheimers gehad het, het vir ‘n rukkie by sy seun gebly, maar het voltydse versorging nodig gehad, weens ‘n probleem met sy knieë.

Me. Hall en me. Pretorius is susters en me. Pretorius het aangebied om mnr. Hall te versorg, aangesien sy nie voltyds werk nie.

Mnr. Hall het aan asma gely en me. Pretorius het Saterdagoggend gehoor dat hy slym op die bors het. Sy het hom gestoom, waarop die slym losgekom het.

Hy kon dit nie self uitspoeg nie en sy het ‘n suster (wat in die omgewing bly) gaan roep om te kom help terwyl sy vir die ambulans wag. Die suster het die slym uitgehaal, sy bloeddruk en polsslag gemeet en hom gemaklik gemaak.

Die paramedici het dadelik vir mnr. Hall suurstof gegee en hom afgevoer na die Middelburg Hospitaal.

“Ons het al voorheen vir pa dokter toe gevat om die slym met die suigmasjien te verwyder. Ons het gedink dit gaan net ‘n paar minute vat en dan gaan hy weer huistoe, soos altyd.”

Volgens hulle het die susters wel mnr. Hall in ‘n kamer ingevat en hom gestoom met ‘n nebuliseerder. Kort hierna was dit duidelik dat daar weer baie slym in sy keel en mond is.

Op hierdie stadium het hospitaalpersoneel mnr. Hall weer uit die kamertjie gestoot om aandag aan ‘n ander pasiënt te gee.

“‘n Suster het vir my ‘n sneesdoekie gegee en gesê ons moet dit self uithaal. Hulle het ook ‘n plastiekstoel agter die matras ingedruk sodat hy meer regop kon sit. Ek het egter nie geweet hoe om die slym uit te haal nie!”

Mnr. Hall se oë het na begin rol en daar het geweldige roggelgeluide uit sy keel gekom. Terwyl hulle paniekerig op personeel geskree het om hulle asseblief te help, het hulle gesien dat mnr. Hall sy bewussyn verloor.

“Toe pa nie meer reageer nie, het hulle hom skielik weer na die kamertjie toe gevat en die slym probeer uitsuig en aarvoeding en ‘n bloeddrukmeter opgesit. Dit was egter te laat!” Mnr. Hall is kort daarna dood verklaar.

“Hulle het hom net daar in die hoekie gelos. Ons moes self die aarvoediing en bloeddrukmeter afhaal. En dit alles het gebeur voor sy tienjarige kleindogter, Jennifer en die ander pasiënt in die kamer!”

• Maandag het nog ‘n skok op die familie gewag. Toe hulle by die bestuurskantore navraag doen oor mnr. Hall se lêer en die oorsaak van die dood, was daar ‘n papier vas aan die lêer wat gesê het: “dead on arrival”.

• Mnr. Philemon Letlalo (Hoof Uitvoerende Bestuurder, Middelburg Hospitaal) voel dit is baie onwaarskynlik dat die hospitaalpersoneel so sou opgetree het, aangesien daar oral kameras is by ontvangs en ongevalle. Hy het egter gesê dat die gesin welkom is om ‘n klagte aan sy kantoor te rig. Sodra hulle die klagte ontvang, sal hulle die videomateriaal nagaan om te bepaal of alles gebeur het soos die familie beweer.

daleen@mobserevr.co.za

Exit mobile version