Crime

Panga-aanvalle

Is daar ’n verbintenis tussen die panga-aanval by Pienaardam en ten minste twee ander aanvalle die afgelope twee weke in onder andere Groblersdal en eMalahleni?

Mnr. Deon van der Merwe en me. Catharina Fourie is op 7 Maart by ’n boshut by Pienaardam deur ses rowers aangeval. Mnr. Van der Merwe se bobeen is oopgekloof deur ’n booswig met ’n panga. Hy is ook oor die kop met ’n hamer geslaan tot hy sy bewussyn verloor het.

Mduduzi Nkosi is geïdentifiseer as die hamer-aanvaller en ‘n gesigprofiel is saamgestel van die pangaman.

Die vier ander rowers het balaklawas gedra.

Dit was egter nie enigste voorvalle sedert hierdie aanval wat ’n mens laat regop sit nie.

• Op 15 Maart vanjaar word drie boosdoeners met messe opgemerk deur ’n venster by Clubville.

Drie verdagtes is later vasgetrek, waaronder een wat ook ’n bokbaardjie gehad het (soos die profielfoto van die Pienaardam-aanval).

Daar is later aan die koerant gesê dat die mans nie positief verbind word met die Pienaardam aanval nie.

• Op 2 April word me. Mariana Menge in haar huis op hul plaas net buite Marble Hall deur rowers verras.

Sy het haar huishulp hoor gil en gaan ondersoek instel, waarop sy ’n gemaskerde man met ’n panga by die huishulp gesien het.

Me. Menge het later aan die joernalis van die Daller gesê dat daar tussen drie en vyf aanvallers was.

Me. Menge het die paniekknoppie gedruk om die alarmbesigheid te ontbied en het ook geskree: “bring die geweer!” wat waarskynlik die aanvallers laat skrik en die hasepad laat kies het.

• Mnr. Frik Bodenstein word aangeval met ’n panga Dinsdag (15 April) in die Zaaihoek-omgewing waar hy grond huur op die Inyandamyn.

Mnr. Bodenstein het dit vreemd gevind om ’n spesifieke hek oop te vind by een van die kampe. Toe hy uitklim is hy deur ’n rower met ’n pistool verras.

Sy werker, John, wat agter op die bakkie was, is ook van die bakkie afgeruk.

Mnr. Bodenstein is van agter af geslaan. Toe hy val, is hy geskop en met die platkant van ’n panga geslaan. Die panga is op ’n stadium ook teen sy keel gedruk om te vra vir sy bankkaart en pinnommer.

Die rower het gedreig om sy keel af te sny.

Die twee mans is met toue, wat in die bakkie gekry is, vasgemaak en op hul mae en gesigte die bosse ingesleep. Die rowers het weggekom met mnr. Bodenstein se Mahindra bakkie.

• Daar was twee aanvalle in die Ermelo omgewing. Mnr. JR Buhrman (77) se lyk is op 31 Maart in sy plaashuis gekry.

Net etlike dae later is daar weer ’n bejaarde egpaar op ’n plaas aangeval.

Mnr. en me. Edward (76) en Ina de Villiers (73) is deur drie rowers oorval.

In hul geval is hulle met ’n strykyster en met kookwater gebrand. Alhoewel daar nie ’n panga betrokke was nie, was die rowers se woorde bykans presies dieselfde as die aanval by die boshut.

Hulle het gevra vir wapens, geld en die kluis se sleutels! Die booswigte het gevlug met die egpaar se voertuig.

By navraag aan adj. Salome Mzimba (polisie se mediakantoor) het sy gesê dat die polisie net kommentaar kan lewer oor plaaslike aanvalle en kan hulle nie sê of Nkosi en die pangaman positief verbind kan word met die ander gevalle nie.

“Eers wanneer daar iemand gearresteer word, kan die verdagtes moontlik positief verbind word met ander aanvalle in ander dorpe deur middel van uitkenningsparades.”

• Dit is ’n ou gewoonte van Nkosi om deel te wees van bendes en aanvalle as hy ontsnap.

Tydens sy ontsnapping uit die hofselle in 2009, het verskeie rooftogte in die Middelburg (ook op die Groblersdalpad) en Carolina omgewing gevolg en is mnr. Johan Venter (wat op die Stoffbergpad gebly het) vroeg in 2010 doodgeskiet.

In November 2013 het Nksoi uit die polisieselle op Middelburg ontsnap gedurende die tyd wat hy op verhoor was vir een van die rooftogte wat hy gepleeg het voor sy eerste arrestasie.

Die ander sake sou vroeg hierdie jaar aangaan.

Hy was pas uit op straat of me. Susan van der Berg en me. Ronelle Steyn word in ’n motorhuis in Dennesig aangehou. Me. Van der Berg het hom, soos me. Fourie, deur ’n foto in die Observer uitgeken.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button