News

“Fun Run” vir Jovhan

Die gemeenskap word gevra om deel te neem aan 'n pretdraf op 28 Maart om te help met ons dorp se klein kankerlyertjie, Jovhan Hefer (10), se mediese rekeninge.

Die pretdraf oor vyf kilometer begin om 18:00 en word op die fietspaadjie op die gholfbaan gehou. Atlete wat 10 km wil aandurf, is ook welkom. Inskrywings beloop R20 per persoon.

Klein Jovhan was pas vir vier weke in die Unitas Hospitaal nadat hy ‘n longinfeksie opgedoen het.

Volgens sy ma, Ilze, was hy vir twee weke in die intensiewe eenheid, waar hy ook aan ‘n ventilator gekoppel was.
“Die dokter het gesê hy gaan dit nie maak nie, maar die Here is groot!”

Hy is Vrydag ontslaan en hy en sy tweelingsussie, Wiané, het Sondag hul 10 de verjaardag gevier.

Me. Hefer sê hy is tans pal op suurstof en baie moeg na sy verjaardagpartytjie, maar niks kan die knapie se vegterslus blus nie.

Jovhan, ‘n leerling van Laerskool Middelburg, is verlede jaar Junie op sy ma se verjaardag met leukemie gediagnoseer. Saam met die leukemie, is hy met

Lees ook: VIDEO – Wedloop vir kanker

Phladelphia chromosoom gediagnoseer, wat behels dat sy chromosome in sy bloedselle aanmekaar vassit.

Buiten chemoterapie, moet hy medikasie gebruik vir die chromosoomsiekte wat R40 000 per maand beloop. Die chemoterapie is tydelik gestaak (hy drink nog chemopille) totdat hy ‘n bietjie sterker is.

Alhoewel hulle ‘n mediese fonds het, dek dit nie al die uitgawes nie.

Lees ook: Dogter èn kleinseun veg teen kanker

“Ons gemeenskap is egter net fantasties. Uit alle oorde help die mense,” sê me. Hefer.

Alle fondse wat geïn word met die pretdraf, sal aangewend word vir Jovhan se mediese uitgawes.

Vir enige navrae rakende die pretdraf, bel Sanet of Amanda by 013 283 9300.

• Borsspeldjies met Jovhan se gesiggie op, sal te koop wees. Persone wat nog borgskappe wil gee, soos medaljes, kan ook van hulle laat hoor.

Back to top button