Crime

Is pangaman dalk gevang?

“Hy het ‘n bokbaardjie gehad en die polisieman het vir ons gesê dat hy moontlik positief verbind word met die aanval op die mense by Pienaardam,” het ‘n vrou (wat anoniem wil bly) Maandagoggend gesê. Sy het vertel hoe radiogroeplede vanuit Clubville, Gholfsig en Aerorand, Saterdag die booswigte agterna gesit het. Selfs drawwers, bouers by …

“Hy het ‘n bokbaardjie gehad en die polisieman het vir ons gesê dat hy moontlik positief verbind word met die aanval op die mense by Pienaardam,” het ‘n vrou (wat anoniem wil bly) Maandagoggend gesê.

Sy het vertel hoe radiogroeplede vanuit Clubville, Gholfsig en Aerorand, Saterdag die booswigte agterna gesit het. Selfs drawwers, bouers by huise, mense op fietse en insittendes in taxi’s het in ‘n spanpoging saamgewerk om te probeer om drie verdagtes, wat messe by hulle gehad het en by ‘n venster in Clubville gesien is, te probeer vang.

Die vrou vertel dat een van die verdagtes wel vasgetrek is en dat hy die oomblik toe die radiogroeplede hom gevang het, uitgeroep het: “I know where the laptop is!”

Volgens haar is die skootrekenaar al verlede Maandagmiddag om 17:20 gesteel toe booswigte ‘n sitkamervenster uitgeslaan het, terwyl die gesin in die huis was! Toe hulle die alarm aansit, het die diewe gevlug, maar hulle het weggekom met haar skootrekenaar.

Saterdagmiddag was die gesin weer in die huis doenig toe haar dogter drie verdagtes met messe by ‘n sitkamervenster opmerk.

Die booswigte was op die punt om wéér die ruit uit te slaan. Die kind het haar ouers geroep, waarop hulle die alarm aangesit en die radiogroep gekontak het (hulle is nie self lede nie).

Van oraloor het hulp opgedaag en een van die drie verdagtes is vasgetrek. Hy het dadelik gesê hy weet waar die skootrekenaar is (wat hom positief verbind met die inbraak van Maandag).

Na ondervraging is nóg twee verdagtes vasgetrek en een van hierdie mans se beskrywing kom ooreen met dié van een van die aanvallers by Pienaardam.

• Mnr. Deon van der Merwe en me. Catharina Fourie is op 7 Maart in die vroeë oggendure deur ses aanvallers in die boshut oorval.
Mnr. Van der Merwe is met ‘n panga op sy been gekap en vier keer met ‘n hamer oor die kop geslaan.

Me. Fourie is deur die aanvaller met die panga gemartel en verskeie kere met die panga gekap.

Sy het verlede week die boosdoener wat mnr. Van der Merwe met die hamer geslaan het positief uitgeken as Mduduzi Nkosi (na aanleiding van ‘n foto wat die joernalis vir haar gestuur het).

Die een wat haar aanhoudend gemartel het met die panga het sy beskryf as ‘n man met ‘n bokbaardjie. Die ander vier rowers het balaklawas gedra.

Een van die verdagtes wat Sondag deur die polisie ingeneem is vir ondervraging, het ook ‘n bokbaardjie.

• By navraag aan kapt. Khanyisile Zwane (polisiewoordvoerder) het sy gesê dat die verdagtes wat Saterdag en Sondag gearresteer is, nog nie in die hof verskyn het nie en dat hulle nog net deur die polisie ondervra is.

Daar word tans nog net klagtes van aanranding en betreding teen die verdagte wat Saterdag gevang is, ondersoek.

Op die vraag of hulle die verdagte wie se beskrywing ooreenstem met dié van die pangaman, op ‘n uitkenningsparade gaan plaas vir die egpaar van Pienaardam, is gemeld dat die ondersoekbampte na ondervraging en ondersoek sal besluit of een van die verdagtes wel positief verbind kan word met die aanval by Pienaardam.

daleen@mobserver.co.za

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button