Crime

Porkey is die vark in die verhaal

Talle slagoffers is warm onder die kraag nadat 'n "feesorganiseerder" met derduisende rande verdwyn het. 

Die Belfast Lente Fees sou van 22 tot 25 September plaasgevind het. Dit was die breinkind van Dirk Grobler, wat sy opwagting ‘n paar maande gelede in die stil dorpie gemaak het.

“Dirk is ’n kansvatter wat ons almal om die bos gelei het,” sê Cindy Kriek van die Pig & Pickle in Belfast.

Sy sê dat Grobler gevra het of hulle sou belangstel om die anker besigheid vir ’n fees te wees. Die kroeg, wat op die Dullstroompad geleë is, sou die biertuin behartig en stalletjies en ander aktiwiteite sou daarom beplan word.

“Ons het ingestem dat hy die terrein kan gebruik en om die biertuin te doen, maar gesê dat ons niks met die reëlings te doen wil hê nie. Hy moes self toestemming by die munisipaliteit kry en al die uitstallers reël,” sê mev. Kriek.

Grobler het ’n paar maande gelede by ‘n ou skoolvriend wat in Belfast woon, kom aanklop. Hy het ’n slim storie gehad oor hoekom hy nie ’n bankrekening het nie en die vriend het ingestem dat hy sy spaarrekening gebruik, waarin daar reeds ’n paar duisend rand was.

Grobler het ’n paar maande gelede in Belfast aangekom.

Daarna het Grobler wild en wakker begin stalletjies verkoop. Hy het by al wat ’n fees in die omgewing, van Lydenburg tot Middelburg, aangegaan om uitstallers vir die Belfast fees te werf.

“Hy het vir ons gesê dat alles vir die fees gereël is en dat die munisipaliteit klaar toestemming gegee het. Hy het net vir die papierwerk gewag,” sê mev. Kriek.

Daar is tot vir die eienaar van ’n oop stuk grond oorkant die kroeg toestemming gevra om sy plek te gebruik.

Grobler het talle groot borge gekry en daar sou ’n skaap sowel as koopbewyse van ’n bekende kettingwinkel in die dorp uitgeloot word.

Die krake begin wys

Verlede week het Grobler Marietjie Smit, wat by die Pig & Pickle werk, se karsleutels gevat en met haar motor verdwyn. Toe hy gekontak is het hy verduidelik dat hy die laaste reëlings wou tref.

Iemand het laat weet dat hulle hom by die Hartlandskou by Pienaardam gesien het, waar hy vermoedelik vir oulaas probeer het om geld uit uitstallers te maak. Toe het hy soos ’n groot speld verdwyn.

Me. Kriek het eerste lont geruik en begin ondersoek instel. Dit blyk dat meer as R50 000 deur die vriend se spaarrekening is. Baie borge en uitstallers het egter ook kontant betaal. Grobler het ook vir uitstallers kampgeriewe aangebied waarvoor hulle ekstra moes betaal of hulle kon deur hom verblyf by gastehuise reël.

Grobler het ’n string kriminele oortredings

’n Bron het bevestig dat Grobler ’n ellelange kriminele rekord het waarvan die meeste oortredings vir diefstal in die Wes Kaap was. Talle daarvan is in Hermanus gepleeg. Grobler het ook verskeie kere tronkstraf uitgedien. Sy laaste vonnis was egter in 1999.

Piet Botes van Gauteng, wat Wonderneut produkte verkoop, sou een van die uitstallers wees. Hy was nie bewus dat die fees gekanselleer is nie. Mnr. Botes sê dat hulle oorspronklik R500 vir ‘n stalletjie betaal het. Grobler het hom daarna gebel en gesê dat die fees nou na die Belfast rugbyveld skuif en dat die stalletjies nou aansienlik groter is. Mnr. Botes moes nog R400 inbetaal. Hy het ook klaar verblyf bespreek en betaal.

Nog ’n uitstaller, Jonn Jameson Lonns, het laat weet dat hy en sy vriend altesame R1 100 aan Grobler oorbetaal het.

Alhoewel Grobler se Facebook profiel, onder die naam Porkey Porktjop nie meer bestaan nie, is sy ‘besigheidsblad’ Porkey’s Productions steeds aktief. Die Belfast Lente Fees word steeds daarop geadverteer.

Die fees word steeds geadverteer op Facebook.

Enige iemand wat weet waar Grobler homself bevind, of wat klagtes teen hom wil open kan adjudant offisier Willie de Waal van die Belfast Polisiestasie op 083 331 9591 kontak.

• Grobler kon nie telefonies of oor Facebook bereik word nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button