News

Suster roep tevergeefs na broer

“Thorn!” “Thorn!” “Thorn!” het Tara Moore angsbevange uit haar polisiesel geroep.

Haar broer, Thorn (27), is in die sel langsaan aangehou, saam met vyf ander mans.

“Die polisiemanne het haar uitgelag,” het hul ma, Cathy, later vertel.

Tara was bang dat Thorn selfmoord sou pleeg. Hy het deur die tralies vir haar gesê hy gaan sy eie lewe neem, omdat hy nie kans gesien het om terug te gaan tronk toe nie.

“Kyk mooi na die kinders en ons ouers,” het hy gevra. Thorn was baie lief vir Tara se twee kinders.

Mnr. Trevor Moore, Thorn se pa, sê dat Tara polisiemanne gevra het om ’n ogie te hou oor haar broer, maar dat sy uitgelag is.

Sy het aanhoudend na hom geroep maar geen reaksie gekry nie. Toe Thorn se selmaats aan die badkamerdeur begin slaan, het sy besef daar is fout.

Hy het hom na bewering met sy sweetpakbroek opgehang.

Die broer en suster is in die polisieselle aangehou, in verband met ’n huisbraakklag wat in Desember plaasgevind het.

Hulle gebroke ouers glo vas dat hulle nie by die misdaad betrokke was nie.

Die polisieselle was oor die jare in omstredenheid gedompel, met ’n gevangene wat selfmoord gepleeg het nadat hy daar verkrag is – hy het hom na sy vrylating soos Moore opgehang. Na die verkragting is kamera’s in die selle geïnstalleer maar die weerlig het dit beskadig.

’n Bitter hartseer mnr. Trevor Moore het www.mobserver.co.za se kantore besoek en gesê die gesin soek antwoorde. Dit is duister hoe Moore homself kon ophang, terwyl daar vyf ander gevangenes in die sel was en hy betwyfel ook die wyse waarop sy seun aan sy einde gekom het.

Tara en Thorn Moore was albei bekende dwelmgebruikers.

In die Middelburg gemeenskap is daar al meer woede omdat Nigeriese dwelmhandelaars vrylik sake doen in die sakekern en die lys van dwelmslagoffers langer en langer word.

Die polisie doen niks daaraan nie en arresteer meestal dwelmgebruikers op mindere klagtes, terwyl die groot visse, die dwelmhandelaars, harde dwelms soos soetgoed op die dorp se strate verkoop.

•Daar word nog gewag vir kommentaar van die polisie af.

Lees ander nuus hier:

Bekende boer aangeval

Bekende in vleisbedryf pleeg selfmoord

Video and photos: Ambulance hit by hippo outside Pretoria

Toyota bakkie verdwyn

Six die in horrific crash

Back to top button