Municipal

Dorp staar waterkrisis in die oë

’n Dreigende waterkrisis staan Middelburg in die gesig met die dam wat amper weekliks met ’n persent daal. Waterbeperkings sonder boetes om dit af te dwing het kenners bekommerd.

13 Jaar gelede was dit voorbladnuus dat die Middelburgdam byna leeg is en dit lyk asof die dorp weer dieselfde krisis in die oë staar.

IMG_8251_53683

Desember 2003 was die damvlak op 32% en Oktobermaand vanjaar is die damvlak 34,9%.

Wat ook steeds dieselfde is, is dat mense nou ook nie besef hoe ernstig die situasie is nie.

“Dit is asof mense nie bekommerd is solank hulle die kraan kan oopdraai en daar water uitkom nie,” sê die stigter uitvoerende hoof van Water Shortage South Africa (WSSA), mev. Caroline van Saasen, aangaande water en die droogte in Middelburg.

16ff18-1_62720

Met vanjaar se droogte het sy gevoel dat te veel mense agteroor sit in plaas van self inspring en iets doen.

“Ek het toe met WSSA begin en Maart vanjaar voltyds by WSSA begin werk. Ek kry nie ’n salaris nie en doen dit uit liefde vir die saak.”

Mev. van Saasen is ook veral bekommerd oor haar eie dorp, Middelburg, se watertoestand.

“Dit is ’n hartseer storie hierdie droogte en mense besef nie wat aan die gebeur is nie, maar ek probeer positief bly. Wanneer ons dam op 30% is, beteken dit dat 25% nie gebruik kan word nie en dat daar net 5% drinkwater sal wees, want die res is slik en modder.”

16ff18-2_29421

Erger nog besef die regeringsinstansies, wat werklik ’n verskil kan maak, blykbaar ook nie die erns van die saak nie.

Navrae in, onder andere, Februarie vanjaar aan die Steve Tshwete Plaaslike Munisipaliteit oor boetes aan watermorsjorse, is soos volg beantwoord deur die woordvoerder, me. Prudence Magutle:

“Die munisipaliteit het aansoek gedoen by die hof om oortreders te beboet en ons wag tans vir goedkeuring.”

Óf hulle het nie goedkeuring gekry nie óf hulle het nooit aansoek gedoen nie, want tot dusver is daar steeds geen boetes uitgereik vir mense wat nie by die waterbeperkings hou nie.

Die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Mandla Mnguni, het weer verlede maand aan die Middelburg Observer gesê dat daar geen boetes sal wees vir mense wat nie die waterbeperkings nakom nie.

“Die munisipaliteit gaan nie nou boetes uitreik nie, hoewel ons dit al vir ’n hele rukkie oorweeg. As ons sulke drastiese stappe moet neem om seker te maak mense spaar water, sal ons wel nie huiwer nie. Nou hoop ons dat mense die wet sal onderhou en nakom.”

 

En nou sê die burgemeester, mnr. Mike Masina, dat as jy enige iemand sien water mors, moet jy ‘n foto neem en dit, tesame met die persoon se straatadres, na mmoffice7263@gmail.com e-pos.

“Daardie mense sal ’n vroeë Kersgeskenk in die vorm van ‘n R1 500 boete ontvang.”

Maar tot dusver verneem www.mobserver.co.za dat dit nog nie deur die raad goedgekeur is nie en nog nie geïmplementeer is nie.

As daar na die weervoorspellings gekyk word, lyk dit ook nie of daar binnekort voldoende reënval gaan wees nie.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel slegs 30% kans op drie millimeter reën Sondag en Maandag vir Middelburg.

“Oor die algemeen sal die toestande oor die Indiese Oseaan nie bevorderlik wees vir reënvalaktiwiteite gedurende lente nie. Die meeste klimaatmodelle voorspel marginaal bo-normale reënval in die vroeë somerseisoen.”

Die 2015/2016 droogte heers steeds oor die meeste dele van Suid-Afrika en die land sal swak herstel weens bo-normale temperature vir die komende seisoene en ook die feit dat ’n goed gevestigde La Niña hoogs onwaarskynlik is.

“Dit beteken die situasie is baie delikaat vir alle klimaatsensitiewe sektore.”

Volgens mev. van Saasen lyk en ruik die water in die dorp klaar anders.

“Dit wat ons oorhet, moet ons bewaar. Mense moet besef hoe ernstig die situasie is en nie wag tot die water op is nie.”

Sy gee die volgende wenke om water te bespaar in jou alledaagse lewe:

– Baadjies en denims kan maar minder gewas word

– Was van jou klere terwyl jy stort

– Handwas of gebruik die quick wash funksie op jou wasmasjien

– Sit ’n liedjie aan terwyl jy stort en as die liedjie klaar is, moet jy uitklim

– Stort eerder as om te bad

savewater_01320

“Daar is nog baie ander maniere om water te bespaar. WSSA verkoop ook die Water Warrior. Jy koppel dit aan jou uitlaatpyp van jou bad en koppel dan jou tuinslang daaraan. So kan jy maklik jou badwater gebruik om jou tuin nat te maak.”

Die Water Warrior kos slegs R100 en die wins gaan direk aan WSSA.

Mev. van Saasen raai mense ook aan om die munisipaliteit te bel en mense wat water mors te rapporteer.

Voorkoming is altyd beter as nasorg en as die munisipaliteit nie gaan ingryp nie, sal jy as watergebruiker self moet ingryp en verantwoordelikheid neem voordat dit te laat is.

• Waterbeperkings is wél steeds geldig van 09:00–17:00 en die publiek word ernstig versoek om by hierdie beperkings te hou. Maak dus jou tuin nat tussen 18:00 en 06:00 wanneer die kondensasie nie so hoog is nie en was jou plaveisels en voertuie met ’n emmer.

• Vir verdere inligting oor Water Shortage South Africa of om die Water Warrior te bestel, gaan na die Facebookblad, Water Shortage South Africa, kontak Caroline by 071 612 4171, stuur ’n e-pos aan info@watershortagesa.com of besoek die webblad by www.watershortagesa.com.

• Lees volledige berigte oor die waterprobleme in ons dorp in die Vrydag uitgawe (14 Oktober) van die Middelburg Observer.

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button