NewsUpdate

Opvolg: ‘Oom Jan’ sukkel steeds met wond

Maande nadat Jan Prinsloo (59) deur sy eie hond gebyt is oor nuwejaar, moet hy steeds elke tweede dag na die Provinsiale Hospitaal gaan vir mediese behandeling.

In ‘n wêreld waar dit gewoonlik “elke ou vir homself en die duiwel vir die res” is, het hierdie storie ‘n nadraai wat jou met ‘n warm gevoel in die hart en glimlag op die gesig sal laat.

Te danke aan Middelburg se burgemeester, Mike Masina, het privaat mediese instansies ingegryp om hom by te staan.

Mnr. Prinsloo het ‘n gapende wond aan sy been gehad nadat hy tydens nuwejaarsvieringe deur sy boerboel, Tjokkie, gebyt is. Volgens mnr. Prinsloo het sy hond geskrik toe ‘n buurman vuurwerke afgeskiet het.

Sy been is by die Middelburg Hospitaal verbind en hy is huistoe gestuur. Maar ontsteking in die wond het hom genoop om in die hospitaal opgeneem te word, waar daar vrese was dat hy dalk sy been kon verloor.

Mnr. Prinsloo se dogter, Tanja Brits, sê dat sy kort daarna deur Bambanani Mediese Sentrum gekontak is.

‘n Verpleegster het gesê dat die burgemeester vir dokter Mohammed Tayob gevra het of hy nie ‘n ogie oor mnr. Prinsloo se vordering kan hou nie. Dr. Tayob het in samewerking met ‘n dokter by die provinsiale hospitaal gesorg dat mnr. Prinsloo die beste moontlike mediese behandeling kry.

Van daar druk die Prinsloo egpaar elke tweede dag op suster Melanie Strohmenger se knoppie wat hulle dan met die Bambanani bus by die hospitaal gaan oplaai en by hul huis in Bloekomsig aflaai.

Alhoewel daar steeds ‘n rou wond is, lyk sy been nou al soveel beter dat hy moontlik binnekort self by die huis daarna sal kan omsien.

Vir arme Tjokkie het die lewe nie so goed uitgedraai nie. Hy is intussen uitgesit.

“Ek het hom net nie meer vertrou na die voorval nie. Dit het altyd gevoel of hy snaaks na my kyk nadat hy my gebyt het. Ek het ongemaklik gevoel as hy naby was,” verduidelik mnr. Prinsloo.

• Die Prinsloo egpaar bedank Bambanani vir hulle hulp en bystand asook die burgemeester wat dit alles laat gebeur het.

Lees vorige storie hier:

Vuurwerk woede

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

Back to top button