News

‘Ek is verkrag’

"Ek is verkrag, en ek wil nie hê dit moet met enigiemand anders gebeur nie. Daarom vertel ek my verhaal, met die hoop om alleenlopende vrouens te waarsku," sê me. Magriet Schabort (63).

Me. Schabort pas die voertuie voor Vleismark in Groblersdal op. Verlede week het sy wat sy gedink het die kans van ‘n leeftyd was, gekry. Sy kon uiteindelik uit die motorhuis waarin sy gewoon het trek.

Dit het gebeur nadat ‘n huiseienaar in Groblersdal haar gevra het om by hom te kom werk.

Die werk het heel eenvoudig geklink, al wat sy moes doen was om te kyk dat die huishulp haar werk behoorlik doen en sy moes maaltye voorberei. In ruil daarvoor sou sy dan in ‘n kamer in die huis kon woon.

Me. Schabort het die geleentheid met beide hande aangegryp. Aan die begin het dit baie goed gegaan. Sy vertel dat sy saam met die eienaar van die huis en sy seun van ongeveer 10 jaar, asook ‘n getroude paartjie en nog ‘n man in die  huis gewoon het.

Een aand het die enkellopende man ongeveer 22:00 die aand by die huis aangekom. Hy het kort-kort in haar kamer ingekom.

“Later kon ek dit nie meer hou nie, en ek het vir hom gevra ‘wat soek jy?’,” vertel me. Schabort.

Die man het haar toe vasgedruk, haar klere afgepluk en haar verkrag.

“Ek het probeer om te skree, maar hy het sy hand oor my mond gedruk. Dit het soos ‘n leeftyd gevoel. Teen die tyd wat hy klaar is, het ek my klere opgetrek en nie geweet wat om te doen nie. Die man het vir my gesê,

‘Ek is nog nie klaar met jou nie’, en by die deur uitgestap. Dit was 02:00. Ek was seer,” het sy vertel.

“Ek wou met niemand praat nie, veral nie met mans nie. Ek het nie weer teruggegaan na die huis toe nie. En ek sal ook nie weer nie. Ek was so seer gewees die volgende dag, dat dit moeilik was om te loop,” sê me. Schabort.

Me. Schabort is terug na die motorhuis waar sy tans woon. “Dit is klein, en ek het nie lig nie, maar ek gaan nie terug na daai plek toe nie,” sê sy.

Sy het ‘n saak by die polisie oopgemaak het en na Groblersdal Hospitaal gegaan het vir ‘n ondersoek.

“Die dokter het bevestig dat ek verkrag is, en gesê dat ek nie ernstig beseer is nie, maar dat daar wel baie bloeding is,” sê me. Schabort.

Groblersdal SAP het aan Die Daller bevestig dat ‘n saak van verkragting geopen is en dat die saak ondersoek word.

“Ek wil net nie hê dit moet met iemand anders gebeur nie. Ek wil net die alleenlopende vrouens waarsku dat sulke goed met enige iemand kan gebeur. Vrouens wat alleen is moet sorg dat hulle veilig is,” sê me. Schabort.

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

Back to top button