News

Departement staak werk by Optimum

Optimum bevind homself tussen die boom en die bas met Eskom wat volstrek weier dat die myn meer as R1 per ton kool uit die kragreus sal kry.

Nog Eskom, nog Glencore skei deesdae maklik met R1, en Optimum se benarde finansiële posisie het reeds daartoe bygedra dat sy oopgroefaktiwiteite gestaak is.

Optimum myn nou suiwer om Eskom se Hendrina kragstasie van kole te voorsien.

Optimum het probeer om die staande 22-jaar kontrak met Eskom, wat jare reeds lywige verliese vir Optimum tot gevolg gehad het, te skrap maar Eskom het aangedui dat, hoewel die ooreenkoms in Junie deur Eskom opgehef is, Optimum steeds verantwoordelik gehou sal word vir nie-lewerings boetes.

Mining Weekly het Dinsdag berig dat Optimum nie by die lewerings-ooreenkoms kan hou nie.

Glencore, wat in Johannesburg, Londen en Hong Kong gelys is, se Optimum groepdirekteure het nou gaan klop aan die deur van besigheidsrehabiliteerders om die situasie om te keer, en Eskom tevrede te hou.

Die departement van mineraleregte het egter alle operasies tydelik op 3 Augustus by Optimum gestaak.

In ‘n SMS wat Maandag aan al die werkers gestuur is, sê Optimum “Alle busdienste is opgehef, behalwe vir werkers op brandbeheer.

Alle werknemers is onmiddellik op onbetaalde verlof geplaas. Geen werk sal onderneem word nie. Optimum sal alle werkers 12-ure voor produksie hervat word, laat weet. Volgens wetlike verpligtinge, sal net die beheerkamer beman word”.

Intussen word Glencore ook steeds daarvan beskuldig dat die groep die wol oor die gemeenskap se oë wil trek, deur die aantal afleggings te onderrapporteer in die media.

‘n Kommentator op Mining Weekly se berig, wat self afgelê is, sê Glencore se bewering dat net 359 werkers uit die beplande 1067 werkers, afgelê is, ‘n blatante leuen is.

Glencore beweer dat uit die 359, altesaam 267 vrywilliglik afleggings-pakkette aanvaar het, terwyl 86 herontplooi is.

“Glencore lieg, meer as 600 myners is afgelê, en die forseerde afleggings-pakkette, was dieselfde as die vrywillige pakkette. Meer as 300 kontrakteurs is ook die trekpas gegee, dus meer as 900 werkers in totaal”.

Tydens ‘n besoek aan Pullenshope het die Middelburg Observer met verskeie myners gesels wat ook deur die afleggings geraak is.

Die werkers het gesê dat alle oopgroef myners, tesame met die kontrakteurs, die trekpas gekry het.

Hulle het die syfer by die 2000 geraam.

Glencore self het op 1 Julie hul laaste aflegging syfers, amptelik in ‘n persvrystelling aan die Observer “tussen 600 en 700” geraam.

Soos sake tans staan, moet Optimum die Hendrina kragstasie tot 2023 met 5,5 miljoen ton kole per jaar voorsien, wat Glencore sê nie volhoudbaar is nie.

Eskom sit egter self met die hande in die hare weens toenemende druk op kragvoor-siening, en die energiereus is in geen posisie om hoër pryse vir kole te betaal, terwyl hy miljarde kortkom om Suid-Afrika van krag te voorsien nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button