Video: Daghospitaal volgende jaar klaar

Die Middelburg Daghospitaal behoort teen die einde van 2015 voltooi te wees.

Dr. Roelof Cronjé (oogspesialis en een van die lede van ‘n konsortium wat die hospitaal bou) het hierdie week bevestig “dat alles volgens plan verloop.”

Dr. Cronjé het etlike maande gelede reeds sy praktyk geskuif na die huis in Proteastraat 2A waar die dieretuin jare gelede was. Pasiënte se reaksie was baie positief, want nie net is die spreekkamer baie groter nie, maar daar is ook oorgenoeg parkering.

Die skuif was egter tweërlei van aard, want dié huis staan reg langs die area waar die beplande Middelburg Daghospitaal en Sub-Akuut opgerig gaan word.

Die grond is maande gelede reeds oorgedra aan die eiendomsmaatskappy, Matzoforce Pty Ltd, wat gehou word deur ‘n konsortium van dokters, tandartse en paramedici, asook sakemanne.

Die gemeenskap het gewonder hoekom daar verlede week van die bome uitgehaal is en het riemtelegramme die rondte gedoen dat “die grond gebreek” is om met bouwerk te begin.

Dr. Cronjé sê dit was egter net siviele ingenieurs wat geotegniese grondtoetse gedoen het, om te kyk of daar enige probleme met die grond kan wees soos ondergrondse fonteine. Daar is egter geen probleme gekry wat bouwerk kan bemoeilik nie. Daar is ook begin met voorlopige skoonmaakwerk.

Die daghospitaal sal bestaan uit 20 beddens en die sub-akute fasiliteit uit 34 beddens.

• ‘n Driedimensionele argitekvoorstellingsvideo van die Middelburg Daghospitaal:

 

 

Back to top button