News

Gesteelde fiets: enigste een in dorp wat só lyk!

Inbrekers het ’n bergfiets, wat enig in sy soort is, gesteel en bied die eienaar ’n R1 000 beloning aan vir inligting wat sal help dat hy dit kan terugkry.

James Faber sê hy het opmerklike veranderinge aangebring aan sy Giant Anthem bergfiets, wat verlede week gesteel is.

Dié fiets is verlede Maandag uit hul motorhuis in Lilian Ngoyistraat (Kanonkop) gesteel.

James sê hy gaan nou maar lemmetjiesdraad ook bo-op sy buitemuur laat aanbring, want net ’n paar maande gelede is daar ook by hulle ingebreek en vier fietse en gereedskap gesteel.

Na die vorige inbraak het hulle ’n boom buite die erf afgesny en ook hul sekuriteit verbeter, maar nie eers dit het die boosdoeners afgesit nie.

Verlede Maandagoggend is hy omstreeks 06:15 werk toe en het sy fiets nog op sy plek in die motorhuis gestaan.

Sy vrou, Jolindi, het oopgesluit vir die huishulp net na 07:00 en het sy sommer die voorste hekkie ongesluit gelos, omdat sy gewag het vir haar vriendinne om saam met hulle te gaan stap.
Omstreeks 07:20 het sy agtergekom die motorhuis staan half oop.

James het sy fiets sodanig verander dat dit die enigste van sy soort is in Middelburg.

“Jolindi het my geskakel en gevra waar is my fiets en ek het gesê hy is in die motorhuis. Sy het vir my gesê hy is nie meer daar nie en ek het besef hy is gesteel!”

Hulle het aan die buitekant van die erf voetspore gekry waar die diewe rondgetrap het.

Die boewe het twee dae later wéér ’n kans probeer vat om in te kom.

Woensdagaand het James met sy honde gaan draf. Hy hardloop altyd eers ’n ent met hulle, vat hulle huistoe en hardloop dan weer alleen verder.

Met sy terugkeer was hy net ’n rukkie tuis, toe hulle die honde hoor blaf.

Die hamersteel wat waarskynlik gebruik is om die diefwering van die motorhuis oop te breek.

Hy is dadelik na buite, waar hy ’n hamersteel met ’n stuk plastiek aan buite gekry het, asook ’n keps (met ’n skeurplek in) op die muur. “Ons dink die honde het hulle gepla en ons het te gou reageer. Hulle het egter toe reeds die diefwering van die venster by die motorhuis afgebreek!”

• James sê hy het sy fiets (ter waarde van R45 000) se sitplek vervang met ’n sagte jelsitplek en ook ander pedale opgesit. Hy vra dat indien enige persoon die fiets aan hulle probeer verkwansel, dat hulle hom dadelik sal skakel by 082 443 4193.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button