News

Van bakboord na stuurboord by hospitale

‘n Rugbyspeler is letterlik van bakboord na stuurboord gestuur by hospitale na t ’n ernstige besering, maar is hy in twee maande se tyd nog nie geopereer nie.

Ma vrees dat seun arm kan verloor

’n Rugbyspeler van Hoërskool Middelburg het gevoel in sy arm verloor ná ’n ernstige rugbybesering en sy ma vrees dat hy moontlik sy arm kan verloor.

Liam de Beer (16), en sy ma, Natasha, het sedert die besering hulself herhaaldelik vasgeloop by verskeie staatshospitale en wag nou op ’n operasie sodat hy weer sy arm kan gebruik.

Volgens Natasha het Liam, wat flank speel vir Middies se B-span, op 20 Julie tydens ’n wedstryd in Pretoria sy arm beseer. Hulle het teruggejaag na Middelburg, waar hy Middelburg Provinsiale Hospitaal toe geneem is vir behandeling. “X-strale is geneem en is bepaal dat hy die been in sy elmboog gebreek het. Die dokters het ’n halwe gips laat opsit en hy is huis toe gestuur met ’n opvolg-afspraak op 1 Augustus.”

Liam is huistoe en intussen het sy hand drasties begin swel. Hy het ook alle gevoel in sy hand en arm verloor.

Met hul terugkeer na die hospitaal op 1 Augustus, is die gips verwyder en het die dokters dadelik gesien hoe erg sy arm geswel is.
“Twee dokters het hom behandel en die een wou eers vir hom meer pynpille voorskryf. Die tweede dokter het egter uitgewys dat iets ernstig fout moet wees as hy nie gevoel het nie, en het hom na ’n ortopeed by die Witbank Hospitaal verwys. Die dokter het ook gevra hoekom Liam nie op 20 Julie opgeneem is nie.”

Liam se hand is erg geswel.

Liam is per ambulans na die Witbank Hospitaal geneem om die ortopeed te sien en is daarna dadelik in Middelburg Hospitaal opgeneem.
Daar het hy, volgens Natasha, tot 12 Augustus gelê sonder om enige behandeling te ontvang.

“Toe Liam se pa sy arm sien, het hy voorgestel dat ons hom eerder Steve Biko Hospitaal toe moet neem, en hy is dieselfde dag nog daar opgeneem.”
Verskeie skanderings is gedoen en meld Natasha dat dokters bepaal het dat al die senuwees in sy arm af is en dat hy ook ’n bloedklont het wat bloedsomloop en suurstof afsny.

“Hy is neurologie toe verwys en hulle het gewaarsku dat hy gangreen in sy arm kan kry, weens die bloedklont. Hy is in sy naeltjie ingespuit en gesê om ’n Disprin te drink om sy bloed te verdun.”

Die ortopeed het hulle meegedeel dat hulle aan Liam se elmboog moet opereer. “Hulle het gesê dat hulle weefsel uit sy been moet verwyder om die senuwees in sy arm te heg, en dat dit ’n baie gevaarlike operasie is. Hy kan moontlik op die tafel uitbloei.”

Liam was vir 34 dae in die Steve Biko Hospitaal, maar hy het nog steeds nie die nodige operasie ondergaan nie.
Hy is op 3 September ontslaan, maar weer op 18 September opgeneem in neurologie waar hy as ’n ‘hoë risiko’ pasiënt geklassifiseer is.

Baie moet gedoen word, maar niks gebeur nie

“Die dokters bly sê wat alles gedoen moet word, maar niks gebeur verder nie.”
Liam is weer ontslaan en is Woensdag weer terug vir ’n afspraak.

“Ons gaan hom na ’n privaatpraktisyn, wat in sportbeserings spesialiseer ook neem vir ’n tweede opinie. Intussen het hy alle gevoel tussen sy nek en hand verloor!”

Natasha noem dat hulle tans sonder vervoer sit en van vervoerdienste moet gebruik maak om Liam tussen Pretoria en Middelburg te vervoer.
“Dit werk R700 per rondte uit, en sluit nie verblyfkostes in nie.”

Hoërskool Middelburg het ’n lentedag vir Liam gehou om fondse in te samel en maak fondse beskikbaar, soos dit nodig is.

’n Ander ouer van die skool het ’n BackABuddy profiel vir Liam gestig om te help met die uitgawes.
“Dit gaan nie vir my oor geld nie, maar oor my seun se welstand. Sy dominante arm is beseer en hy het al op drie maande se skoolgaan uitgemis. Ek vrees dat my kind sy arm gaan verloor. Die dokters lig mens ook nie in oor watse stappe ons vorentoe moet neem nie en ons oorweeg nou privaathulp.”

BackABuddy begin

Diegene wat ’n bydrae wil lewer, kan Liam se BackABuddy profiel besoek by die volgende skakel: https://www.backabuddy.co.za/campaign/liam-de-beer

• Medianavrae is gerig aan die Gauteng- en Mpumalanga Gesondheidsdepartement.
Mpumalanga woorvoerder, Christopher Nobela, het beloof om ondersoek in te stel.
Gauteng se mediakantoor het nog nie op navrae reageer nie.

 

Do you have information on a news story you think we should cover?

Please send an email to our News Editor at daleen@mobserver.co.za or phone us on 072 248 3855.

To keep updated and informed on all the latest Middelburg news, visit our official social media pages:

FacebookInstagram, TikTokX (Formerly Twitter), and YouTube.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button