News

R2 miljard dwelmfabriek: hoofargumente aangehoor vir borgverhoor

Die nou reeds bekende R2 miljard dwelmfabrieksaak is weer uitgestel

Die vyf beskuldigdes in die R2 miljard dwelmfabrieksaak het gister weer in die Groblersdal-landdroshof verskyn, waartydens die hoofargumente aangehoor is vir en teen die borgaansoek.

Die vyf mans is gearresteer nadat ’n dwelmlaboratorium op 19 Julie op ’n plaas buite Groblersdal deur die Valke oop gevlek is.
Die mans is reeds meer as ’n maand in aanhouding.

Die borgverhoor van Roelof Frederik Botha (57), die plaaseienaar van Thaba E Monate en Simphiwe Melvin Khumalo (34), het gister voortgegaan.
Hulle het saam met drie Meksikaanse burgers in die Groblersdal landdroshof verskyn.

Die Meksikaners, Alejandro Gutierrez Lopez (43), Jorge Humberzo Gonzalez (53) en Ruben Vidal Rodriguez (44) het voorlopig hul aansoeke om borg laat vaar.
Daar is tydens hul verskyning bevestig dat die Meksikaners onwettig in die land is.

Adv. Nico Swart en mnr. Frans Mashele het vir die verdediging aangevoer dat die staat se saak nie so sterk is as wat hul voorgee nie, aangesien daar te veel teenstrydigheid is en die staat nie verder met bewyse gelei het, nadat daar gesê is dat hierdie saak handel oor een van Suid-Afrika se grootste dwelmlaboratoriums wat oopgevlek is.

Die staat, by monde van aanklaer, George Sekhukhune, het teruggekap deur te sê dat daar oorgenoeg feite aan die hof voorgehou is om te wys hoe sterk die saak is.

“Dit is onmoontlik dat Botha kan redeneer hy het nie geweet van die kriminele aktiwiteite op die plaas nie, aangesien hy op die plaas woon en die plaaseienaar is,” het Sekhukhune aangevoer.

Hy het ook gesê dat Khumalo onmiddellik gearresteer is nadat hy op die plaas aangekom het met sy voertuig, wat dieselfde dromme met asetoon gedra het, wat by die dwelmlaboratorium gevind is.

“Proforma-fakture wat op Khumalo se selfoon gevind is, het ook aangedui dat hy navraag gedoen het oor groot hoeveelhede wynsteensuur wat gebruik word in die vervaardiging van kristalmetamfetamien en wynsteensuur is ook op die toneel gevind. Wat die kruideniersware betref wat Khumalo afgelewer het, is daar ook ’n proforma-faktuur in die naam van Gonzalez op Khumalo se selfoon gevind vir Meksikaanse kos, wat weer ’n skakel toon tussen die beskuldigdes.”

Die landdros, Bogi Mashele, het nie borguitspraak gelewer nie, omdat hy gesê het dat hy verdere oorweging benodig nadat hy die argumente van die verdediging en die staat aangehoor het.

Die saak is uitgestel na Maandag, 9 September, vir uitspraak.

• Die vyf staan tereg op klagtes van die vervaardig van onwettige dwelmmiddels, handeldryf in die middels, of alternatiewelik die besit daarvan, asook geldwassery. Die staat voer aan dat hulle die beweerde misdade met ’n gemeenskaplike doel gepleeg het.
• Omdat die dwelms ’n geskatte waarde van meer as R1 miljard het, maak die klagtes deel uit van ’n skedule vyf oortreding, en staan die staat dus hul borgaansoeke teen.

Lees meer hier: Dwelmlaboratorium-saak: Steeds geen borg-uitspraak

Back to top button