News

Koperdiewe slaan by kerk toe

Dit is nie die eerste keer wat die PPK Lofdal Gesinskerk die teiken was van diefstal nie.

Koperdiewe is weer aktief in Middelburg sentraal en het onlangs weer toegeslaan by die PPK Lofdal Gesinskerk waar waterpype gesteel is.

Volgens Pastoor Callie Joubert het die diewe verlede Saterdagaand die koper waterpype van die kerksaal se muur afgeruk.

Pastoor Joubert het gesê dat die diewe nie toegang gekry het tot in die kerk of saal nie, “die pype is buite teen die saal se muur. Die alarm het afgegaan, so die diewe het die pype afgeruk en gevlug.”

Hy sê die skade is gelukkig nie te groot nie.

“Dit is maar die rondlopers wat die pype gesteel het. Hulle steel gereeld ligte en drade. Maar gelukkig het ons ’n alarmstelsel en dit keer dat hulle inbreek.”

• Daar is al voorheen berig oor die diefstal van drade en ligte by die PPK Lofdal Gesinskerk.

In Junie 2023 is twee verdagtes op die kerkperseel gearresteer nadat hulle ’n tuinblaser gesteel het.

Diefstal van veral kragkabels en ligte was in 2023 so erg dat verskeie gemeenskapsvergaderings by die kerk gehou is om die gemeenskap by misdaadverkoming betrokke te kry.

Die diefstalle was gekoppel aan prostitusie en dwelmhandel wat ’n erge probleem in die area is.

Back to top button