News

Man met ‘een arm’ praat, wys vasgebinde arm en sê hy is verslaaf aan pynpille

Die man wat sy linkerarm teen sy lyf vasbind dat dit lyk of hy net een arm het en so bedel op straathoeke, ontken dat hy dwelms gebruik.

André Stoltz (34), wat daagliks gesien word by die verkeerslig op die hoek van Cowen Ntuli- en John Magagulastraat, erken hy was by Hope Corner vir hulp, maar sê dit was vir sy verslawing aan pynpille.

Hy op die Here se naam gesweer dat hy nie heroïne gebruik nie.

Ayesha Snyman, wat aan die stuur van sake by Hope Corner staan, sê egter hy vertel ‘n leuen en dat hy by hulle hulp kom vra het vir heroïenverslawing.

“Hy het sy inspuiting, teelepel en laaste fix vir my gegee toe hy daar kom. Ek het gevra waar is die toutjie waarmy hy sy arm vasbind om te spuit en het hy gesê hy gebruik sommer die toutjie waarmee hy sy broek vasmaak.”

Ayesha het gemeld dat hy drie dae daar was, maar geloop het “omdat ek kwansuis nie aandag aan hom gee nie. Ons laat die verslaafdes eers klaar deur die onttrekking gaan. Op dag sewe vat ons hulle vir ‘n haar- en baardsny en eers dan begin ons met berading. Die rede daarvoor is omdat soveel van hulle na ‘n dag of drie net verdwyn.”

Sy het ook gesê dat sy linkerarm vasgebind word, omdat hy homself met heroïne in die arm spuit en dat hy dit aan hulle erken het.
“Terwyl hy egter by ons was, het die arm egter skielik gewerk, want hy het hom gebruik om koffie te drink en te rook!”

André is ‘n bekende gesig waar hy bedel by die verkeerslig op die hoek van Cowen Ntuli- en John Magagulastraat.

Kry hom na derde probeerslag

Die joernalis het André eers na ‘n derde probeerslag (nadat hy ons twee keer vantevore ontglip het), op sy gewone straathoek gevind, waar motoriste gereeld vir hom fooitjies in die hand stop.

Die eerste keer wat ons met hom wou praat op straat, het hy gesê hy sal ons eerder by die kantoor kom sien en het hy nooit opgedaag nie.

Die tweede keer vind ons hom voor die drankwinkel in die Nasaret taxistaanplek (Cowen Ntulistraat) en beloof hy dat hy ons oor 10 minute oorkant die pad in Cowen Ntulistraat sal kry, waarna hy ook verdwyn.

Dié keer bly hy darem staan.

Bind nie net arm vas nie, voet was ook seer

Buiten sy linkerarm wat agter sy rug vasgebind is, het hy die betrokke dag ook ‘n ou mediese skoen oor sy een voet aan.
“Ek is raakgery…” vertel hy toe die joernalis hom voorkeer en vra vir ‘n onderhoud.

Hy wil aanvanklik niks weet nie, en sê: “julle hou nie van mense soos ons nie. Jy kan maar skryf wat jy wil,” maar antwoord tog van die vrae wat gevra word.

Vies oor ‘geen aandag’

Toe daar uitgevra word oor die drie dae wat hy by Hope Corner was, word hy baie kwaad.
“Hulle het my glad nie aandag gegee nie en my glad nie eers probeer help nie. Die hele drie dae wat ek daar was, het ek in die boonste kamer alleen gebly. Die toilet het ook nie gewerk nie!”

Volgens hom het een van die “huisvaders” van Hope Corner hom op straat gekry en gesê hy kan Hope Corner toe kom.

Hy het nie net vir Ayesha beskuldig dat sy nie aandag aan hom gegee het terwyl hy daar was nie, maar, volgens hom, was hy die meeste van die tyd alleen en het een persoon net af en toe by hom kom inloer.

Was ‘voorheen aan heroïne verslaaf’

“Ek is verslaaf aan pynpille, wat opioïed bevat, wat dieselfde toets en onttrekking het as heroïne.”

Hy erken egter dat hy “vroeer jare wel baie gedrink het en letterlik álles gebruik het, van heroïne tot CAT (metkatinoon). Ek het egter nooit crystal meth (kristal metamfetamien) gebruik nie.”

Hy dui ook aan dat hy al in ander rehabilitasiesentrums was, “maar nie in en uit rehabilitasie was, soos ander mense beweer nie.”

Was dors tydens onttrekking

André het te kenne gegee dat hy nie genoeg hidrasiekoeldrank en water gekry het by Hope Cornner nie en erg gedehidreer het tydens sy onttrekking. “My tong het tot gebars, so dors was ek.”

‘Kan arm nie gebruik, al wil ek hoe graag’

André is gekonfronteer oor ‘n video wat verskyn het op ons susterskoerant, Witbank Nuus, se webtuiste waar hy kitaar speel.
“Ek het kitaar gespeel, ja, maar dit was vier of vyf jaar gelede.”

Op hierdie tydstip het hy sy hemp oopgeknoop en sy linkerarm vir die joernalis gewys.
“Kom ek wys jou. Kan jy die arm se dikte sien? Hy is heeltemal dunner as die ander een. Jy kan sien hy werk nooit. My hand is ook nie vuil nie. Ek kan hom nie gebruik nie, al wil ek hoe graag!”

Hy beweer hy het ‘n genetiese siekte, Huntington, wat sy spiere en senuweestelsel aantas.

“Enigiemand kan tog sien hy werk nie. As jy net jou logika gebruik, sal jy dit sien!”
Die joernalis het dit egter duidelik gemaak dat sy nie ‘n dokter is nie en alhoewel die arm skoon is en nie bruingebrand is soos die ander een nie, kon sy nie ander fout op die arm sien nie.

Wil nie jammer gekry word nie

Hy het laat val dat hy van die dorpie Haenertsburg in Limpopo vandaan kom, maar homself dadelik gekorrigeer en gesê hy wil nie hê mense moet meer van hom weet nie.
“Ek wil nie hê mense moet my jammer kry nie.”
Hy het ook erken dat sy ma nog leef, maar toe daar uitgevra is of sy weet dat hy op straat is, was die antwoord: “natuurlik nie!”
André wou nie sê waar sy bly nie en net gemeld dat “sy ver” is.

Hy is baie intelligent

Hy het ook bevestig dat hy wel matriek geslaag het en ‘n graad het.
“Mense wat egter dink ek het ‘n graad in IT, sit die pot mis,” maar wou hy ook nie uitbrei watter graad hy behaal het nie.
Die joernalis het hom ook gepols oor waarom hy bedel.
“Ek wil nie hier staan nie. Natuurlik het daar iets gebeur dat ek op straat beland het, ‘n mens land mos nie net by ‘n robot nie! Kan jy nie dink met my intelligensie en hoe ek met jou praat, as ek besig was om werk te soek, sou ek werk gekry het nie? Dink jy nie daar is iets wat my verhoed om werk te kry nie? Maar ja, ek is seker nie baie slim as ek by ‘n verkeerslig staan nie.”
Daar is uitgevra oor waarom hy dan bedel en nie werk gaan soek nie en was die antwoord net: “Ek wag vir iets…jy gaan dink ek is mal,” maar wou nie vertel waarvoor hy wag nie.

 

Het man geken, wat in bos gesterf het

André het genoem dat hy die man wat onlangs dood op ‘n matras in die bos by die Tarries fietsrybaan gekry is, geken het.
“Hy was al ‘n rukkie siek en kon nie meer bedel nie.”

‘Gevaarlikste ou in Middelburg’

Die joernalis het opgemerk dat daar ‘n man naby die voertuig gesit het, wat die hele tyd in hul rigting gekyk het tydens die onderhoud.
André is uitgevra oor hom, wat aangedui het dat hy weet wie hy is.
Hy het nie die man se naam gegee nie, maar net gemeld: “jy is veilig hier, want daardie ou is die gevaarlikste persoon in Middelburg.” Oor waarom die man so gevaarlik is, wou hy nie uitbrei nie.
Skielik haastig toe nog vrae gevra is

Die joernalis wou hom nog ‘n paar vrae vra oor sy herkoms en bewerings wat teen hom gemaak is, waarop hy skielik baie haastig geraak het.

“Ek wil nie nie meer sê oor my lewe nie. Ek moet gaan, ek is honger en ek wil gaan eet. Ek het goed om te doen. Ek verloor geld deur hier met jou te staan en praat,” en het hy weg geloop.

Antwoorde op nog van André se bewerings

,• Ayesha het genoem dat die toilet naby die kamer waar hy die drie dae by Hope Corner was, wel die dag met sy aankoms probleme gehad het, nadat ‘n pyp gebars het.

“Wat hy nie vir jou gesê het nie, was dat daar omtrent nege ander toilette naby genoeg was vir hom om te gebruik. Hy het ook nie genoem dat die loodgieter die volgende oggend, terwyl hy nog daar was, die pyp kom regmaak het nie!”
• Oor die aanname dat hy nie genoeg gekry het om te drink terwyl hy onttrek nie, het sy net gelag en gesê dat hulle meer as genoeg hidrasiekoeldranke en water vir verslaafdes gee as hulle onttrek.
“Hulle kry selfs pynmedikasie, wat geen verdowingsmiddels bevat nie, om te help met cold turkey (die gevoel wat verslaafdes dit noem terwyl hulle erg onttrek) en die pyn.”
Back to top button