News

Twee jaar se gewag vir operasie: man land in rolstoel op straat

Met 'n heup wat knaend pyn, slaap 'n man in die nagte in sy kar, omdat hy al twee jaar vir 'n operasie wag.

Japie Oosthuyzen het gister sy 40ste verjaardag in sy kar, op straat, gevier, want die gewag van twee jaar vir ’n heupoperasie het hom alles laat verloor.

Meer as twee jaar gelede het hy nog gery werk toe en terug, in ’n woonstel gebly en gerieflik geleef.

Nou is hy in sy rolstoel op straat, want die barmhartige samaritaan wat hom vir twee jaar in sy huis laat bly het, terwyl hy vir die operasie wag, is onlangs oorlede en sy familie kan nie verder vir Japie help sorg nie.

“Ek was drie jaar gelede gewoond daaraan om lang ure te werk by ’n kragstasie, maar nou moet ek bedags in my kar, wat se lisensie al ’n jaar terug verval het, sit, want ek wag al twee jaar vir ’n heupvervanging, wat elke keer uitgestel word.”

Sy hande bewe as hy emosioneel vertel “dat ek nou weet hoe voel haweloses op straat, want ek is ook daar. Dit is baie koud in my kar as ek in hom moet slaap. Dink net hoe voel die arme mense wat in die koue met net ’n kombersie oor hulle moet slaap.”

Hy het alles wat hy besit al verkoop om te probeer oorleef. Nou het hy net sy kar en ’n paar kledingstukke oor.

Japie word soms deur ’n ander gesin gehelp met ’n slaapplekkie en ’n bord kos, maar ook daar kan hy nie voltyds bly nie, want die broodwinner het sy werk verloor.

“Die X-strale en bloedtoetse het bevestig ek moet ’n heupvervanging kry, want my heup is vergruis, maar ek wag al twee jaar vir ’n datum.”

Die operasie was op ‘n stadium beplan vir Desember 2023, maar toe hy by die hospitaal kom, moes hy omdraai, want die spesialis was met verlof.

Hy was al ’n paar keer daarna weer by die Witbank Hospitaal.

Daar is vir hom gesê dat die dokter volgeboek is tot 13 Augustus en dat hy dan moet terugkom om ’n nuwe datum vir ’n operasie te kry.

Die personeel by die hospitaal het ook vir hom gesê as hy terugkom, moet hy eers al sy agterstallige gelde op sy afsprake betaal.

Volgens hom moet hy elke keer as hy hospitaal toe gaan, R55 rand betaal, maar kon hy dit tot nou toe nie betaal nie. “My rekening staan al amper op R600. Finansies, finansies… ek het nie eers geld om kos te koop nie, waar moet ek geld kry om dit te betaal?”

Japie noem dat sy bestuurders- en sy voertuiglisensie verval het en dat sy kar maar meestal staan.

Hy is een aand deur die munisipale wetstoepassers byna beboet toe hulle hom gevang het waar hy in sy kar slaap.

“Hulle het gesê as hulle my weer in my kar vang slaap, gaan ek ’n R2000 boete kry én hulle gaan beslag lê op my voertuig. Waarheen moet ek anders gaan? Ek het nie geld om die lisensies uit te neem nie. Daar is ook nie geld vir petrol sodat ek iewers net my CV kan ingee nie. Ek is bereid om tans enige werkies met my hande te doen tot ek geopereer kan word. Ek het onlangs selfs gehelp om by iemand se huis te verf.”

Wat hom omkrap is dat daar soveel ander mense op straat is, wat nie wil werk nie.
“Daardie mense benadeel ons wat wil werk! Ek is verskriklik gefrustreerd. Ek voel ek is ’n las vir almal en in almal se pad!”

Persone wat Japie dalk kan help met werk wat hy met sy hande kan doen, kan 076 769 3479 of 079 452 5302 skakel.

• Met die hulp van die vrou wat hom soms help met iets te ete, het hulle hierdie week vorms gaan kry om te kyk of hy nie by Sassa ’n inkomste kan kry tot hy na die operasie weer kan loop nie.
Die vorm moet ingevul word deur ’n dokter, waarna hy dit moet terugvat na Sassa toe en ‘n Sassa-dokter hom ook moet ondersoek.

• Die probleme wat Japie ondervind is bespreek met Christopher Nobela, provinsiale woordvoerder van die gesondheidsdepartement.
Christopher het gesê dat Japie sy afspraak in Augustus moet nakom en as daar weer probleme is met uitstel van die operasie, moet hulle hom van die hospitaal af kontak.

Ten opsigte van die agterstallige geld by die hospitaal, het Christopher dit duidelik gemaak dat Japie gehelp moet word, al kan hy nie betaal nie.

• Die rolstoel waarin Japie sit, was sy oorlede ma se rolstoel en dit is ook stukkend.

• Japie meld dat hy kwalifikasies (rooi seël) het in die hantering van sekere chemikalieë, dat hy op ‘n stadium gewerk het by bestralingsveiligheid by ’n kragstasie en ook agtegrond het in pak en verkoopwerk in store.

Back to top button