News

Erfenisstigting herontmoet ’n held uit hul verlede

In Junie vanjaar het die Erfenisstigting die eerste Argief-Wisseluitstalling, “Tussen kerk en oorlog: Die Burgers van Middelburg”, in die Erfenissentrum by die Voortrekkermonument op die been gebring en dié uitstalling het reeds die kultuur- en geskiedeniswêreld aan die gons.

Theo Ligthelm, erfeniskenner van Middelburg Erfenis, het dié uitstalling ontdek na ’n inwoner van die dorp hom gekontak het en dadelik besluit om besoek af te lê.

Middelburg Erfenis is ’n organisasie van Middelburgers en oud-inwoners wat hulself bemoei met die bewaring van historiese skatte in die dorp. Ligthelm sê dat hulle baie opgewonde is om te weet dat die stories van hul mense selfs hier by die Erfenisstigting vertel en bewaar word.

Een van die projekte waarmee Ligtelm en Middelburg Erfenis tans besig is, is die sogenaamde Bloubordjie-projek waarmee hulle navorsing doen oor verskeie geboue, gedenktekens, museums, monumente én mense uit die dorp en hierdie verhale deur middel van die bordjies toeganklik maak vir die breër publiek.

Ligthelm is beïndruk met die uitstalling.

“Toe ons begin met ons navorsing oor die Burgers van Middelburg het ons met baie van die familie kontak gemaak en dit is fantasties om te weet dat ons nou hier by die Voortrekkermonument toegang het tot meer foto’s en inligting oor die besonderse gesin.”

“In hierdie foto’s is daar natuurlik baie mense se stories. Hier kyk ons byvoorbeeld na ’n foto van die Burgers, maar langs hulle staan ander mense wat sáám die storie van Middelburg geskryf het,” sê Ligthelm.

Hy was opgewonde om ’n foto van die ou pastorie in hierdie uitstalling te kon sien en sê dit is hierdie unieke vondse wat die verhale meer inkleur.

“Soos ek deur die uitstalling kyk, onthou ek weer ons het nooit ’n foto van die ou pastorie gehad nie, ons weet waar dit gestaan het, maar ons het geen foto’s gehad wat vir ons die prentjie duideliker kon inkleur nie, en hiér sien ons dit uiteindelik.”

Vir hom is dit krities belangrik dat mense meer bewus raak oor waar daar argiefversamelings is, soos dié een by die Erfenisstigting, om hulle meer bewus te maak en uiteindelik ’n liefde vir hul erfenis te kweek.

Ligthelm, ’n voormalige geskiedenisonderwyser, is ’n kenner van die Anglo-Boereoorlog en die geskiedenis van Middelburg en daarom is hierdie uitstalling vir hom so spesiaal.

Die Erfenisstigting bied in September vanjaar hul jaarlikse Erfenisberaad aan waarby Ligthelm ook ’n spreker gaan wees.
Lizette Jansen, bestuurder van die ES, sê sy is opgewonde om vanjaar weer die beraad te kan aanbied.

“Die Erfenisberaad word vanjaar aangebied met die tema Die Toekoms van Pretoria-erfenis: Eerstehulp vir erfenis in nood en ons is baie opgewonde om saam met verskeie kenners skouers te skuur en meer te leer,” sê Jansen.

Vanjaar word die beraad aangebied deur sprekers soos Ligthelm, Melissa Lindique van die Melrosehuis, prof. Anton van Vollenhoven, argeoloog, direksielid van die Voortrekkermonument en een van die voorste kenners van die geskiedenis van Pretoria, Leonie Marais van die FAK en Riana Mulder van Pretoria Historia, om net ’n paar te noem.

Back to top button