News

Man praat vir eerste keer oor Carmen

Hy is deur vriende aan haar voorgestel en het haar “baie jammer gekry”.

Kobus van Staden, die man wie ’n klagte van kardiefstal aanhangig gemaak het teen Carmen-Leigh White-Sharpley, het vir die eerste keer openlik gesels oor die gebeure.

Carmen is steeds in aanhouding nadat sy twee dae nadat Kobus se kar gesteel is, deur die Witbank Polisie gearresteer is by ’n adres in eMalahleni. Tydens die arrestasie is daar ook dwelms in die woonstel gekry.

Kobus se dogter, Sylvia de Bruin, het die joernalis die hele tyd op hoogte gehou van die gebeure, vanaf die oomblik wat hulle videomateriaal gekry het van die diefstal van die voertuig by die Moddercourt woonstelle, tot haar arrestasie in eMalahleni.

Kobus, wat gister aangedui het dat hy beslis nie die saak teen Carmen gaan terugtrek nie, kan nie glo sy het hom so om die bos gelei nie.

Hy vertel dat hy al 24 jaar alleen is en dat een van sy vriende, wat ook in die Moddercourt Woonstelle bly, hom aan Carmen voorgestel het op Valentynsdag (14 Februarie).

Sy vriend het vir hom gesê dat sy op straat is en Kobus het haar baie jammer gekry. Op dieselfde dag wat hy haar ontmoet het, het hy vir haar gesê dat sy by hom kan kom bly.

“Sy was baie gaaf en vriendelik.”

Binne ’n paar dae het hy egter onraad begin vermoed.

“Sy het al hoe langer in die badkamer begin deurbring. As sy toilet toe gegaan het, was sy meer as ’n halfuur daarbinne.”
Wat hom opgeval het, is dat sy vreemd opgetree het, elke keer as sy uit die badkamer gekom het.

“Carmen het gedans en daar het geen musiek gespeel nie. As ek daaroor gepraat het, het sy aggressief geraak.”

Hy onthou dat Carmen vir hom gesê het dat sy op 27 Februarie verjaar en hy wou graag die dag vir haar spesiaal maak.
“Ek het ’n R1 000 geleen by my broer, Michael, om vir haar ’n braai te hou en ’n geskenk te koop.”

Die aand het sy egter weer vreemde gedrag getoon toe sy uit die badkamer uitkom en het hulle daaroor ’n argument gehad.
Hulle het egter steeds saam ’n whiskey gedrink.

“Carmen het vir ons die whiskey ingegooi. Ek onthou dat dit beurtkrag was tussen 19:00-21:00. Verder kan ek egter niks onthou nie. Die volgende oggend het ek met ’n verskriklike hoofpyn en kouekoors wakker geword. Ek kan glad nie eers onthou dat ek bed toe gegaan het nie.”

Die oomblik toe hy opstaan, het hy gesien sy selfoon en skootrekenaar is weg. Sy huis en karsleutels was ook skoonveld en hy moes ’n deur se slot oopbreek om uit die woonstel te kom.

Buite het nog ’n skok op hom gewag toe hy agterkom dat sy Ford Fiësta, ook gesteel is.

CCTV Videomateriaal het later gewys dat ’n vrou die motorhuis oopgesluit, artikels in die kattebak gelaai en daarmee weggery het.

CCTV videomateriaal van Kobus van Staden se Ford Fiësta, wat uit sy motorhuis by Moddercourt Woonstelle in Middelburg gesteel is.

• Carmen en haar vriend is twee dae later by ’n woonstel op ’n erf in eMalahleni gearresteer. Die vriend is die volgende dag laat gaan, omdat hy nie positief verbind kan word met die kardiefstal nie.

• Nadat Carmen weg is, het Kobus die kaste deursoek en afgekom op ’n toiletrolletjie waarin verskeie foeliepapiertjies was. Hy het dit aan die polisie oorhandig.

• Twee dae na haar arrestasie was die Witbank Polisie met Carmen by sy huis, waar hy ondervra is oor die kardiefstal en of hy vir Carmen ken. Daarna is hulle weer weg met haar, terug eMalahleni toe.

• Kobus sê hy is tans sonder vervoer, aangesien sy voertuig steeds by die Witbank Polisie staan, sodat dit deurgegaan kan word vir bewyse.
“My voertuig is al 47 dae by die polisie.”

Back to top button