News

Pofadder se pik brand soos warm kookolie

Moenie probeer om ’n pofadder te vang nie, want hy gáán jou pik en jy kan dalk jou vinger of selfs jou hand verloor!

Alhoewel dié slang vet en lui lyk, is dit een van die gevaarlikste slange in ons omgewing.
So sê die lede van die Middelburg Herpetologiese Vereniging.

Die slange, veral die pofadders, kruip oral uit gate vir kos voor die winter en inwoners word gemaan om versigtig te wees.

Victor Boshoff (LimPuma Herpetologiese Vereniging, Middelburg ingesluit) sê lede van die herpetologiese vereniging “hardloop omtrent rond” om oral in die dorp te gaan slange vang.

Van die boere het hulle ook gekontak en laat weet dat hulle in die laaste week tot 10 pofadders op verskillende plase doodgemaak het.

Hulle vang tussen ses en 10 slange per week en alhoewel daar baie bruin huisslange en selfs rinkhalse gevang is, is dit meestal pofadders wat hul verskyning maak.

Victor maan mense dat die byt van hierdie slang baie erg is.

“Die gif is uiters sitotoksies en dit voel asof jy jou ledemaat in kookolie druk wanneer dié slang jou pik!”

Weefselskade begin dadelik intree en moet die pasiënt so gou as moontlik behandeling kry.
In ernstige gevalle kan ’n pasiënt selfs ’n ledemaat verloor.

• Vanoggend het Bernard van der Berg (lid van die herpetologiese vereniging) ’n bruin huisslang in Harry Gwalastraat (Dennesig) gaan vang. Hy het gesê dat hul lede in die week in dieselfde straat ook ’n pofadder gevang het.

Die pofadder wat vroeër hierdie week in Harry Gwalastraat gevang is.

Hy en Victor vra die gemeenskap om nie self slange te probeer vang nie en eerder die herpetologiese vereniging se lede te bel.

“Ons, asook die brandweerlede is opgelei om die slange te vang. Moenie dit self probeer doen nie, want jy weet nie wanneer is dit dalk ’n giftige slang wat jy probeer vang nie,” het Bernard gesê.

• Hy onthou hoe hy verlede jaar ’n dodelike giftige swartmamba in Mhluzi by ’n huis gaan vang het.

• Sowat twee jaar gelede is daar ook ’n takslang en by ’n huis in Aerorand ’n boomslang gevang. Albei slange kom nie natuurlik in hierdie area voor nie en is ook geweldig giftig. Dit het destyds die vermoede laat ontstaan dat die slange dalk onwettig aangehou is en moontlik uitgekom het.

• Dit is nie net die slange wat die herpetologiese vereniging, die brandweer en die Veediefstaal en Bedreigde Spesie-eenheid laat bontstaan het die laaste tyd nie.

’n Maand gelede is ’n rotsluislang van 2.3m in ’n stoor op ’n plaas op die Slaghoekpad gevang.
Die rotsluislang is ’n beskermde spesie in Suid-Afrika en mag nie doodgemaak word nie.

• As jy ’n slang opmerk, hou hom dop of sit ’n donker pyp (wat toe is aan die een kant) neer ’n entjie van die slang af. Moenie naby gaan nie.

Die slangvangers vra ook dat mense hulle dadelik moet kontak as ’n slang gesien word, want slange beweeg vinnig van een plek na ’n ander as hulle bedreigd voel.

“Moenie ons more eers bel nie, want dan gaan die slang lankal al weg wees.”

• Die toename van slange is omdat hulle jag voor die wintermaande vir hul winterslaap.

• Vir meer inligting rakende die Middelburg Herpetologiese Vereniging of om slange te laat verwyder, bel Victor (voorsitter) by 082 697 9954, Mark Salzwedel (ondervoorsitter) by 082 898 5242, Bernard by 082 769 0227 of Jan Kruger by 084 082 4710.

Lees ook:

Waar kom die giftige slange vandaan?

Rotsluislang vang kleinwild op plaas

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button