News

48 jaar naby die inkdrom

’n Leeftyd van stories jag.

48 jaar is ’n lang tyd.

Nee, dit is nie.

Dit was aand en dit was more… toe is dit verby.

Miskien is dit omdat mens spertye jaag dat tyd verby snel.

By die begrafnis van oud Mpumalanga skeidsregtersvereniging president, Dries Breytenbach.

Het in September 1975 die eerste keer by ’n redaksie kantoor ingestap.
Ons was matrikulante wat aansoek gedoen het om vakansietyd by die Witbank Nuus te werk.

Ek is saam met my groot vriend, George Daniels van Hoërskool Generaal Hertzog, Roselyn Penny en Cecil Smart van Witbank High aangestel.
Roselyn het vir ’n kort tydjie deel van die redaksie span geword, maar joernalistiek was nie vir Cecil en George nie.

3 Desember 1975 het dit my “werk” geword – vandag 48 jaar gelede.

Dit was ’n onbeskryflike reis.

Saam met die eienaar van OK Bazaars Meyerstraat, Christo Vlok, toe hy sy vyftigste verjaardag gevier het.

Amper soos die Nissan advertensie: “Life is a journey, enjoy the ride”.

En ek het.

Het sommige dae beleef wat mense nie in ’n leeftyd beleef nie.

Om ’n storiejagter te wees is ’n euforie wat net joernaliste, veral gemeenskapsjoernaliste, beleef.
Dit word jou lewe, jou hele bestaan, dit verswelg jou.

“Focus on Me, not the storm…” Fransie Venter het hierdie spesiale geskenk aan my oorhandig.

Dit is hard, maar dit is lekker.

Jou gesin offer saam op, kry saam swaar.
Het op ’n Sondag getrou om die Maandag te werk.

Is “ontvoer”, aangerand, het twee keer voor vuurwapens gevlug, byna met ’n mes doodgesteek, met klippe gegooi, in die gesig gespoeg, het doodsdreigemente gekry en is gebrandmerk as “Volksverraaier”.

Moes “vriende” laat omdraai wat by die huis opgedaag het met ’n reuse biltongruiker omdat hulle nie ’n berig in die koerant wou hê nie.

By die Belfast Rugbyklub se 100 jaar feesvierings, langs my staan legende Willem Smit.

Elke sport het sy beserings, elke werk het sy uitdagings.

Dit was alles deel van koerantman wees; “Tobie Kamera”, “Koerantmannetjie” soos my buurvrou my voorstel, “Ons dorp se koerantman”, “Oom Koerant”.

Om dit in Middelburg te kon doen was die grootste beloning; ’n fantastiese dorp met ongelooflike mense.
Om saam te kon huil, saam te lag, saam te baklei, was ’n groot voorreg.

Oor alles wat jy beleef het kan jy ’n boek skryf.

Dalk eendag…

Met die sport legende toekennig van Mpumalanga saam met die hoof van Hoërskool Middelburg Johan Stronkhorst en Charlene Booyens wat die bemarking van die skool hanteer.

Die jaar wat was…

 

1975

•Januarie – Die begin van die era van mikrorekenaars breek aan met die onthulling van die Altair 8800-rekenaar.
•Die Eerste Minister van Suid-Afrika, John Vorster, bring ’n staatsbesoek aan Paraguay en Uruguay.
•Stigting van die beroemde 32-Bataljon van die Suid-Afrikaanse Weermag.
•1 Maart – Kleurtelevisie-uitsendings begin in Australië.
•14 Maart – Die Suid-Afrikaner John van Reenen stel ’n nuwe wêreldrekord op in diskusgooi.
•29 April – Die konsulaat van Israel in Johannesburg word beset.
•30 April – Noord-Viëtnamese troepe verower Saigon en beëindig die Viëtnamoorlog.
•7–21 Junie – Die eerste Krieketwêreldbeker word in Engeland aangebied en deur Wes-Indië gewen.
•25 Junie – Mosambiek verkry onafhanklikheid van Portugal.
•5 Julie – Arthur Ashe verslaan Jimmy Conners in die 89ste Wimbledon tenniskampioenskap.
•12 Augustus – John Walker slaag daarin om die eerste Supermyl te hardloop; in 3:49:4.
•11 November – Angola word van Portugal onafhanklik.
•26 November – Riaan Cruywagen lees sy eerste Afrikaanse nuusbulletin op SAUK-televisie.
•23 Desember – ’n Alouette III-helikopter van die Suid-Afrikaanse Lugmag stort neer naby Cashel in Rhodesië (Zimbabwe). Vier Rhodesiese weermagoffisiere en ’n Suid-Afrikaanse Lugmag vlugtegnikus sterf.

 

Back to top button