News

Aangeklaagde in 2018 skietdood by partytjie laat vaar borgaansoek

De Klerk se regsverteenwoordiger het tydens vandag se verskyning aangedui dat hy sy borgaansoek laat vaar.

Phillip Rudolph de Klerk, die man wat na vyf jaar aangekla is vir die skietdood van die jong Gerhard Coetzer in April 2018, het kort na die hof na middagete hervat het, deur sy regsverteenwoordiger aangedui dat hy sy borgaansoek voorlopig laat vaar.

Die saak is uitgestel na 14 Desember.

Mnr. Coetzer is dood weens ’n skietwond nadat ’n mede-partytjieganger na bewering met ’n wapen tydens ’n geselligheid gespeel het.
Sy driejarige seuntjie, Ronaldo, het alles sien gebeur.

Sy vrou, Bianca, het kort na die gebeure na vore gekom en al die jare volgehou dat ’n persoon by die partytjie met ’n wapen gespeel het en twee skote afgegaan het.

Me. Coetzer het gesê dat een skoot deur ’n buitekamervenster is en die ander een haar man getref het. Gerhard het net ’n paar treë geloop, inmekaar gesak en op die toneel gesterf.

Afriforum se privaatvervolgingseenheid is ook sedert verlede jaar betrokke om die saak te laat hersien, weens die polisie se gesloer om die skieter aan te kla.

Die dossier is op 23 Junie hierdie jaar by die nasionale vervolgingsgesag ingehandig, maar is weer teruggestuur vir die polisie, omdat daar uitstaande inligting op die dossier was.

De Klerk het op 16 November vanjaar die eerste maal in die hof verskyn.
’n Moordklag word tans nog ondersoek.

De Klerk maak gebruik van staatsregshulp.

Back to top button