Twee vas vir koperdiefstal

Twee mans is Donderdagmiddag in die hangkaste van 'n onbewoonde huis in Nyalastraat vasgetrek, waar hulle nog bo-op gesteelde kabels gesit het.

Mnr. Edmund Maritz (van Steenkamp Maritz Eiendomme) was omgekrap oor die geweldige skade wat aan die elektriese kabels en die geiser (die koperpype was afgebreek) aangerig is.

Mnr. Maritz sê hulle het die vorige week alles in die huis gereed gekry vir die nuwe huurders en gereeld gaan kyk dat alles in orde is.

Donderdagoggend het hy dadelik gesien daar is fout. Daar was skade aan die plafon en die geiser se koperpype was afgebreek.

Mnr. Maritz het die Kanonkop/Dennesig/Middedorp Radiogroep gekontak en hulle het die huis gefynkam, maar kon niemand kry nie.

Hy het daar en dan besluit om ‘n elektriese alarmtoestelletjie in die huis te installeer om verdere vandalisme te voorkom.

Omstreeks 15:00 is hy terug om die toestel te installeer. ‘n Groot skok het egter op hom gewag.

In die paar ure wat hy weg was, is derduisende rande se skade aangerig. Die kragboks in die motorhuis is uitgebreek en al die kragdrade is by die muurproppe uitgeruk. Die radiogroep is weer soontoe.

Hulle het weer die hele huis deursoek en sommer in die eerste kamer die eerste verdagte in ‘n kas vasgetrek. Sy makker is in ‘n ander kamer se hangkas gekry.

Cornelius Thomas Johannes Horgan (van Dennesig) het Vrydag in die hof verskyn. 'n Klagte van koperdiefstal word teen hom ondersoek.
Cornelius Thomas Johannes Horgan (van Dennesig) het Vrydag in die hof verskyn. ‘n Klagte van koperdiefstal word teen hom ondersoek.

Mnr. Maritz sê die een man het nog op sy rugsak, waarin die elektriese kabels was, in die kas gesit.

Die hele huis se elektriese bedrading sal na alle waarskynlikheid vervang moet word en dit kan derduisende rande beloop, sê mnr. Maritz.

• Cornelius Thomas Johannes Horgan (28, van Dennesig) en Corrie Marais (29, van Gholfsig) het Vrydag in die hof verskyn. Klagtes van koperdiefstal word teen hulle ondersoek.

• Tydens die arrestasie is daar ‘n leersakkie, waarin ‘n dwelmpypie was, by een van die mans gekry.

One Comment

Back to top button