News

Drie motorfietse uit motorhuis in Blesbokstraat gesteel

’n Kanonkop inwoner het vanoggend ’n onwelkome verrassing tegemoet gestap toe hy om 06:00 op ’n reuse gemors in sy Blesbokstraat erf afgekom het.

Mnr. Ben Roestoff sê dat daar tussen 00:00 Donderdagaand en 06:00 vanmore by sy motorhuis ingebreek is.
Drie waardevolle motorfietse is in die inbraak uit sy motorhuis gesteel.

Hy sê dat die boosdoeners eers die skuifhek oopgebreek en daarna ook die motorhuise oopgebreek het.
’n GSXR 1000 Suzuki, ’n YZ 250 Veldfiets en ’n LTZ 400 vierwielmotorfiets is in die inbraak gebuit.

Mnr. Roestoff het geen idee hoe die inbrekers met die fietse vort is nie, omdat sleepwaens vir die motorfietse agter gelaat is.
Die vermoede bestaan dat ’n bakkie tydens die inbraak gebruik is.

Lees ook: Motorfietsdiewe stell drie motorfietse in een nag

Inwoners met CCTV kameras in die nabye area word gevra om gisteraand se opnames na te gaan.

’n Groep diewe het ook op 28 Oktober, om 01:30, op hul mae by ’n erf in Witsenbergstraat, Aerorand, ingeseil agter ’n waterponie aan.

Die LTZ 400 vierwiel.

Die erf was goed verlig, maar dit het die bende nie afgeskrik nie.
Hulle het laag gelê om die huis se alarm-ogies te omseil.

Buite is die waterponie met ’n Toyota Hilux KZTE bakkie weggesleep.
Vier was die erf in terwyl ’n vyfde boef die wegkombakkie laat luier het.

Lees ook: Kyk hoe kruip dief met rooi tekkies op maag om waterponie te steel

Dit is waarskynlik dieselfde groep wat ’n paar dae daarna ook drie motorfietse in Groenkol en Mineralia gesteel het.

Twee motorfietse is in Kogelstraat gebuit, terwyl die derde, ’n 65cc Husqvarna veldmotorfiets wat aan 9-jarige Christiaan Bellinghan behoort, waarmee hy aan Motocross byeenkomste deelneem, in Komatistraat gesteel is.

’n Wit bakkie was by beide betrokke.

Mnr. Roestoff vra dat inwoners met inligting hom by 082 889 2403 moet skakel.

Die polisie kan ook gekontak word met inligting.

Back to top button