News

Pretorius pleit skuldig: ‘Ek het op hom getrap en hom geskop’

Corrie Pretorius, die man wat daarvan beskuldig word dat hy vroeër vanjaar ’n tienerseun by Fat Cake City aangerand het, het pas skuldig gepleit op ’n klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

 

Sy prokureur, mnr. Josef van Eeden, het sy verklaring aan die hof voorgelê.

In sy verklaring erken hy dat hy op 15 Junie 2022 omstreeks 19:15 by Fat Cake City, Game Centre, Groblersdal was.
Hy het ook erken dat hy die tienerseun aangerand het.

Sy verklaring lui as volg:

“Dat ek hom aangerand het deur hom drie keer te skop en een keer op hom te trap terwyl hy op die grond gelê het en dat my skoene aan my voete was.”

Dat ek betrokke was in ’n argument binne die perseel van Fat Cake City met ’n vriend van die klaer, wat ek aan sy klere gegryp en hom na die buitekant van die winkel geneem het, nadat hy aan my kos gevat het in die winkel, selfs nadat ek hom herhaaldelik gevra het om dit nie te doen nie.

Die argument het buite die winkel voortgegaan.

’n Groep van sowat elf ander jong mans het by die klaer aangesluit, wat my omring het.

Een van die ander jong mans en die klaer het my aangerand deur my met ’n oop hand in my gesig te slaan.

My drie kinders was ook buite die winkel.

Ek het bedreig en gevrees gevoel vir die veiligheid van my kinders en myself in die omstandighede en dat ek my gelisensieerde vuurwapen uitgehaal het.

Ek het nie die vuurwapen op iemand gerig nie en dit bloot in my hand langs my sy gehou.”

Hy het verder erken dat al die jong mans gevlug het, behalwe die klaer en ay twee vriende nadat hy (Pretorius) die vuurwapen uitgehaal het.

In sy verklaring sê hy verder dat “ek in daardie stadium daarin geslaag het om die meeste van die groep jong mans af te skrik soos ek dit bedoel het.

“Voordat ek my vuurwapen kon terugsit in sy holster, het die klaer toe probeer om my vuurwapen te gryp. Ek het daarin geslaag om dit vas te hou.

Ek het op my beurt die klaer gegryp en daarin geslaag om hom te laat struikel en hy het op die grond geval.

Terwyl die klaer op die grond gelê het, het ek op hom getrap en hom geskop.”

Hy het erken dat hy “die grense van private verdediging oorskry het, omdat die aanval op my afgelei is op die stadium toe die klaer op die grond geval het.

Dat dit nie nodig was vir my om op die klaer te trap en te skop wanneer hy op die grond was nie.

Ek het op daardie stadium, na die klaer geval het, geweet dat dit nie nodig was om voort te gaan om die klaer aan te rand nie en dat my optrede onregmatig was.

Die klaer en sy vriende was onder die invloed van drank.

Ek pleit dus skuldig op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.”

Die klagte vir die rig van ’n vuurwapen is teruggetrek en het Pretorius net skuldig gepleit op die klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Die saak is uitgestel na 2 Desember vir vonnis en Pretorius se borg is verleng tot dan.

Back to top button