News

Diewe sal ander wegsteekplek moet soek

Diewe sal ander wegsteekplek moet soek vir hul gesteelde artikels, aangesien dit nou mooi skoon gehou gaan word by die Dennesig dammetjies.

Met die vorige skoonmaak-aksie, was rdl. Helda de Klerk verstom met wat hulle alles tussen die bosse gevind het.

Buiten algemene gemors soos leë sakkies en botteltjies, het sy opgemerk dat daar ook ander vreemde artikels is.

“Dit het gelyk asof iemand tussen die bosse gesit het en artikels wat gesteel is, uitgesorteer het. Al die gemors wat hy nie wou hê nie, is net daar gelos. Goed soos ’n ou ketel, klerasie en ’n kombers. Ek het onder andere ook ’n inspuiting tussen die gemors gesien.”

Rdl. De Klerk sê dit is baie belangrik dat die hele area ontbos word en skoongehou word, “sodat daar nie meer plek is vir verslaafdes en misdadigers om weg te kruip nie.”

• Sy nooi die inwoners van Kanonkop en Dennesig uit om Saterdag weer saam die area om die Dennesig dammetjies skoon te maak.
Almal spring van 09:00 af aan die werk.

Daar is nog baie werk in die spruit en om die dammetjies.

Rdl. De Klerk vra dat ouers en kinders weer moet saamstaan en op dié dag ook hul tuinwerkers saam bring.

Onthou om jou tuingereedskap saam te bring, soos: bossnyers, petrol- en trekkergrassnyers, pikke, grawe, harke, snoeiskêre en kettingsae.

Persone wat kom help, word gevra om dik tuinhandskoene aan te trek (omdat vullis opgetel gaan word), asook waterskoene (om te beskerm teen vuil water, klitsgras en ander gemors).

Almal moet onthou om ook ’n stukkie wors saam te bring, want so tussendeur die skoonmakery deur, sal daar wors gebraai word en kan almal mekaar van nader leer ken. ’n Braaier, vure en broodjies sal voorsien word.

Vir meer inligting, bel rdl. De Klerk by 083 264 7780.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button