News

Mandeladag misbruik om seun te besteel

’n Sestienjarige seun is pas sy duur selfoon en R800 kwyt, nadat hy ’n swendelaar se slimpraatjies geglo het.

Die gebeure het plaasgevind in die omgewing van Lilian Ngoyi- en Dahliastraat (Kanonkop).

Die seun (wie se naam weerhou word) vertel dat hy en sy vyftienjarige vriend op pad terug was vanaf Kanonkop Spar, toe ’n man na hulle toe aangestap gekom het in Lilian Ngoyistraat.

“Hy het gevra of ons hom asseblief kan help, want hy wil kerk toe gaan en ons moet onthou dit is Mandeladag. Hy het gesê ons moet asseblief gaan werk vir die oom waar hy werk en dat die oom ons R220 elk sal betaal.”

Hulle het agter hom aangeloop tot voor Dahliastraat, toe hy omdraai en weer met hulle praat.

“Hy het gesê dat die oom al voorheen jong mense gehelp het, maar dat daar toe R7 000 se goed by hom gesteel is. Ons moet alles uit ons sakke haal, dat dit gemerk kan word.”

Sy broer het niks in sy sakke gehad nie, maar die ouer seun het die beursie en sy selfoon by hom gehad. Die man het die beursie en die selfoon gevat.
Op hierdie tydstip het daar ’n ander man hoër op in die straat verby gestap.

“Hy het vir ons die ander man se selfoon gewys en daar was ’n plakker op. Hy het gesê hulle gaan net my goed merk, dan gaan hulle terugkom en dan kan ons die oom help.”

Met die seun se selfoon en beursie in sy hand, het die man vir hom gevra of hy sy ma se pinkode van die bankkaart ken.

“Ek het net daar begin onraad vermoed en ‘nee’ gesê. Ek het gesê ek tap hom net as ek betaal.”
Die twee mans het om die hoek geloop en buite sig verdwyn.

“’n Paar sekondes later het ek besef wat het gebeur en ons het om die hoek gehardloop. Hulle was toe reeds weg. ’n Tuinwerker het later vir ons gesê dat hulle in ’n kleinerige wit kar geklim en weggery het.”

•Die seun se Samsung A31 foon, al die bankkaarte en die R800 is gesteel.

•Hy het die mans se kleredrag breedvoerig beskryf.

Die persoon wat met hulle gepraat het, het ’n pienk trui aangehad, ’n wit broek en bruin skoene. Hy onthou dat die man groot en fris gebou was.
Die ander man het ’n wit hemp, ’n denim en swart tekkies gedra.

•Volgens die seun het een van sy vriende in graad 11 sowat twee weke gelede bykans presies dieselfde oorgekom in Middelburg.

•Dit wil voorkom of die swendelaars baie oortuigend is en ouers word gevra om hul kinders te waarsku teen mense wat skielik uit die niet net vir jong kinders werk aanbied.

•Die digter en motiveringspreker, Daphne Twala, is ’n paar jaar terug met die selfde slenter uit onder andere ’n skootrekenaar geswendel.

You can read the full story on our App. Download it here.
Check Also
Close
Back to top button