News

Ballonne ter herinnering aan geliefde man land op Sterkloop

“Wens ek kan jou nog een keer styf vashou my lief. Ek.” Dié boodskap het op ’n ballon in die Stoffberg omgewing aangekom.

Die woorde op die ballon, wat twee dae gelede laat gaan is, is in herinnering aan ’n man wat gesterf het weens Covid-19.

“Ek het dadelik haar hartseer gevoel,” het Kayla Potgieter, wat die ballonne gister net buite hul erf op die plaas Sterkloop gekry het, vanoggend gesê.

Me. Julize du Plessis het vanoggend reageer op die boodskap met foto’s van die ballonne wat me. Potgieter op die Facebookblad “Ek reis deur my pragtige land… Suid-Afrika” geplaas het.

“Baie baie dankie Kayla vir jou omgee. My naam is Julize en die boodskap is as simbool van liefde en verlange na my man wat die stryd teen Covid-19 verloor het.

Dit was sy verjaardag die 13de. Baie dankie vir al die mooi boodskappies en drukkies.”
Me. Potgieter het gister die een ballon gesien toe sy by die huis uitkom.

“Dit is heliumballonne. Op albei is boodskappe geskryf. Die een het egter gebars en die ander een het afgesak tot op die grond.”

Die spesiale boodskap op die ballon wat gebars het.

Die boodskappe op die ballonne het haar hart aangeraak.

Op die ballon wat gebars het, was die geskrewe boodskap nog duidelik: “Wens ek kan jou nog een keer styf vashou my lief. Ek.”
Die ander ballon het dié woorde op gehad: “Mis en lief jou met elke vesel in my.”

Me. Potgieter sê sy was baie geraak deur die woorde. “Dit is absoluut hartverskeurend.”

Sy wou graag die persoon opspoor en het dit geplaas op die Facebookblad.
Daar het reeds meer as 100 persone reageer.

Ons publiseer graag ’n paar van die boodskappe:

Felani Du Plessis-Joubert: So jammer vir jou verlies, STERKLOOP saam met Jesus, Hy sal jou nooit verlaat nie!

Maryke Els: ’n Baie mooi gedagte, ek hoop die persoon sien dat jy omgee. Hierdie is iets wat regtig baie help met die helingsproses. My kinders stuur met elke groot datum briefies vir hul pappa so met ballonne.

Monja Pretorius: Kosbaar, daardie verlange kan niemand wegvat…toe my seuntjie oorlede is het ek ’n katjiepiering geplant, kon water gee en versorg en kyk hoe hy groei. Ons moes ongelukkig trek, hy was so groot, moes hom daar los. Elke ou het sy eie manier om te deal met verlies, hetsy gebroke verhouding, dood of wat ook al.

Lylanie Lauwrens: Is die plaas se naam nie mooi nie… “Sterkloop”… so asof die persoon vir haar sê; sterk loop my skat.

El-marie Prinsloo Pieterse: Hou op terug kyk en beweeg aan…ek is regtig fine…jy moet aanbeweeg, sterkloop soos ek jou ken en my onthou soos ek was…omdat jy sterk is…

Nico Landman: Dit herinner my aan “Mooiloop”. ‘Mooi Loop’ is vir my so ’n mooi woord.
Dit sê – Kyk tog mooi waar jy gaan – Moenie seerkry nie – Kyk asseblief dat ander nie op jou trap nie.
Loop regop en met trots – Dit is ook ’n sagte boodskap wat sê: “Ek gee om vir jou.”
As jy loop, dan sien ek jou weer – want dit klink nie so finaal soos totsiens nie.
Dit sê ook : “Jy het ’n vriend in my. En ek dra jou altyd in my hart – In my gedagtes – In gebed, altyd!
Jy’s spesiaal en uniek en sonder jou sal die lewe sy glans verloor.
Mooi loop!

Cathy Els: Ai, dink aan jou vandag. Ons hartseer is saam erg, maar eendag is ons weer saam by ons mans . Lief jou sus.

Gen Oogies: Kan ons dié ’n normale ding maak dat mense dit kan share? Ek dink dis kosbaar om te sien jou ballonne of wat ookal dit was, reis saam met die wind om ver te strek soos hulle liefde vir daai persoon.

Elna Kruger: Dankie vir die mooi manier wat jy hierdie met ons deel! Dit is asof ekself daardie boodskap aan my geliefde Kraaikie stuur!

Ria Prinsloo: Pragtig. Laat my dink aan die fliek ‘Message in a Bottle. My hart uitgehuil.

Marie Prinsloo: Ons doen dit ook elke jaar. Aan my man en kinders en kleinkinders. Dit maak die pyn beter.

Lorraine Erasmus: Ag dit is so hartseer. Ek ken die pyn al vir drie jaar.

Helene Olivier: Ek stuur elke dag ballonne vir my oorlede man. Daarom kan ek identifiseer met dié persoon se verlies. Pragtig wat jy gepos het. Ek het aangestuur aan ander in soortgelyke situasies. So jou ‘pos’ gee vreugde en troos! Dankie. Goeie dag daar.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button