News

Jong man verloor alles weens heup sonder potjie

Vroeg hierdie jaar kon hy nog sy siek moeder rondry en vir haar verblyf betaal, nou sit Japie Oosthuyzen (38) in ’n rolstoel en sy ma is oorlede.

“My ma, Fienie, is op 13 Mei in die St Joseph’s Tehuis oorlede. ’n Week later het die X-straal gewys dat ek ’n hele nuwe heup moet kry, want ek het nie meer ’n heuppotjie nie. Ek is besig om alles te verloor. Ek het eenvoudig nie die geld om te gaan vir al die bloedtoetse om te bepaal of ek wel ’n geskikte kandidaat vir die operasie is nie.”

Japie vertel dat hy in 2007 in ’n ernstige motorongeluk in Kriel betrokke was.
Sy linkerarm was op drie plekke gebreek en sy linker bobeen was ook gebreek.

Na ’n ongeluk in 2007 is sy linkerbobeen gebreek en sy regterheup het heeltemal uitgehak. Hy vermoed dit is toe dat die heuppotjie se probleme begin het.

X-strale het gewys dat sy regterheup heeltemal by die potjie uitgehak het en dit is terug gedruk. “Dit is seker waar die kussingkie in die heup seergekry het, ek weet nie.”

Nadat die gips van sy been en arm afgehaal is, het hy sodanig herstel dat hy kon terugkeer na sy werk as deel van die reddings-eenheid by die Kriel Brandweerstasie.

In 2010 het hy kontrakwerk gedoen by die Kriel Kragstasie totdat die kontrak in 2013 klaargemaak het.

“Ek was vir ’n jaar sonder werk, maar het in daardie tyd gehelp by tuindienste sodat ek en my ma steeds kon oorleef. Ek het nooit gaan lê nie.”

In 2014 het hy begin werk by ’n maatskappy wat werk op aanlegte doen.
Alles het goed gegaan, totdat hy so drie jaar kort-kort pyn in sy regterheup begin kry het.

“Die laaste ses maande het dit baie erg geword en het ek later met krukke begin loop.”

Sy eie probleme moes hy egter opsy skuif, nadat sy ma laat verlede jaar ’n beroerte gekry het.
“My ma het beter geword in die rehabilitasiesentrum en ek het haar teruggebring.”

Sy het egter weer ’n beroerte gehad en haar toestand het so versleg dat hy haar noodgedwonge die laaste twee maande van haar lewe by die St Joseph’s Tehuis moes laat bly.

Hy het geen potjie in sy heup nie.

“Ek het nog ’n goeie salaris verdien en kon dit bekostig om haar daar te hou.”

Na haar afsterwe het hy sy belegging laat uitbetaal om vir haar begrafnis op Kriel te betaal.

Teen daardie tyd kon hy byna nie meer loop weens die pyn nie en is na haar begrafnis dokter toe, waar hy die verdoemende nuus gekry het.

Weens die feit dat hy nie meer kon loop nie, kon hy nog nie weer terugkeer werk toe nie en kry sedertdien nie ’n salaris nie.
Hy moes ook sy mediese fonds kanselleer.

“Ek het al van my huisware begin verkoop om ten minste die helfte van my verblyf te betaal. As ek die einde van die maand nie betaal nie, is ek op straat.”

Hy is dankbaar vir me. Debbie Venter, wat ’n goeie vriendin was van sy ma, wat haar oor hom ontferm.

“Ek wil vir haar en die persoon wat betaal het vir die afspraak by die dokter, baie dankie sê.”

Me. Venter het hom dokter toe geneem, omdat sy voete baie erg begin swel het.

“Die dokter het gesê ek moet gaan vir bloedtoetse, maar die bloedtoetse gaan sowat R3 000 kos en nie ek of tannie Debbie het die geld daarvoor nie. En doen ons nie die bloedtoetse nie, kan hulle nie bepaal of ek geopereer kan word nie.”

Op dié stadium is hy vasgekluister aan die rolstoel en verduur erge pyn.

“Ek sal álles gee om net weer te kan werk toe ry en te werk. Ek kan nie eers ’n basiese ding doen soos om kos te gaan koop of my woonstel skoon te maak nie. Tannie Debbie bring maar vir my kos en maak gereeld vir my skoon.”

Terwyl hy heeltyd trane afvee, probeer hy sy geswelde voete vorentoe skuif.

“Daar is soveel jong mense wat by straathoeke staan en bedel. Jongmense met twee bene en hande wat kan werk, maar nie wil werk nie. Ek wat wil werk en baie hard gewerk het, kan nie, want ek is besig om weens my heup nou alles te verloor.”

•Persone wat ’n bydrae wil lewer vir die kostes vir die bloedtoetse, kan Debbie bel by 079 452 5302.

•As die bloedtoetse wys dat Japie ’n geskikte kandidaat is vir die heupvervanging, kan dit in ’n staatshospitaal gedoen word.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button