News

Man twee keer gesteek met mes vir selfoon

CCTV Videomateriaal wat www.mobserver.co.za bekom het, wys hoe ’n onskuldige voetganger brutaal met ’n mes gesteek en beroof word.

Misdaad is besig om radikaal op Middelburg te eskaleer, terwyl die polisie telkens kla dat hulle nie voertuie het om tonele by te woon nie. Misdade word so swak ondersoek of glad nie ondersoek nie, dat slagoffers dit nie eers meer aanmeld nie, behalwe vir versekeringsdoeleindes.

Mnr. Tobie Prinsloo (30) ag homself gelukkig dat die meslem nie sy long binnegedring het nie.

“Nadat hy my twee keer met die mes gesteek het, het hy die lem teen my nek gedruk en gesê: ‘stop fighting’, waarna hy opgespring, in die kar gespring en weggejaag het.”

Mnr. Tobie Prinsloo.

Daar is X-strale by die Middelburg Hospitaal geneem, maar gelukkig was daar nie inwendige beserings nie.

Mnr. Prinsloo het Saterdagaand saam met vriende gekuier en moes in die vroeë oggendure terugloop huis toe, omdat die persoon wat hom sou oplaai, by iemand anders gaan kuier het.

“Ek het besluit om in Cowen Ntulistraat af te loop, omdat die meeste verkeer daar is en dit dalk die veiligste sou wees.”

Naby die hoeke van Cowen Ntuli- en Meyerstraat, het ’n blou VW Polo langs hom gestop en ’n man het uitgespring.
Voordat hy kon keer het die man op hom toegesak.

Hy het in ’n stoeiery betrokke geraak, maar die man het hom met ’n mes begin steek.
Die lem het sy linker bo-arm en skouer binnegedring, maar hy het bly terugveg.

“Ek het dadelik geweet ek word met ’n mes gesteek, want ek is jare gelede tydens ’n ander rooftog ook met ’n mes gesteek.”

Tydens die gestoei het hulle op die grond geval en die booswig het met die koue lem teen sy keel vir hom gesis om op te hou veg.

“Weens die straatligte was dit nie pikdonker nie, maar ek kon net uitmaak dat hy ’n buff oor sy gesig het. Net sy oë het uitgesteek.”

Op die videomateriaal kan ’n mens duidelik sien hoe die rower mnr. Tobie Prinsloo twee keer met die mes steek.

Die rower het sy selfoon uit sy broeksak geruk en ingespring in ’n blou VW Polo. Mnr. Prinsloo kon net sien dat die voertuig deur nog ’n man bestuur word.

Met bloed wat uit sy wonde stroom, het hy geloop tot by die naaste vulstasie, waar hy vir die mense binne gevra het of hy een van hul selfone kan gebruik om sy selfoon te probeer bel. “Ek het gehoop dat hy in die gestoei dalk my foon laat val het.”

Van die vulstasie af het hy huis toe geloop in Mineralia, vanwaar sy lewensmaat, Lu-Mari Swart, hom na die Middelburg Hospitaal geneem het.

By die hospitaal het hy gesien dat die rower se mes hom ook op sy been gekrap het, maar dit het gelukkig nie steke nodig gehad nie.
Die snywonde is met steke geheg en het hy inspuitings gekry. Hy het ook vroeg hierdie week medikasie by ’n kliniek gaan haal, om infeksie te voorkom.

•Hulle het later met die Toep (App), “Track my Phone” gesien dat die selfoon in die omgewing van SADC-straat is. Kort daarna was dit egter af.

•Mnr. Prinsloo het gesê dat die polisie onderneem het dat hulle vir hom ’n saaknommer sal stuur, maar toe hy dit teen Maandagmiddag nog nie gekry het nie, het hy self polisiestasie toe gegaan om die saaknommer te kry. Die voertuig se registrasienommer is duidelik herkenbaar op die video wat www.mobserver.co.za bekom het.

•Enige persoon met inligting oor wie die verdagte kan wees, kan sers. Malinga bel by 079 286 8550 of 013 249 1600.

• Mnr. Prinsloo is in sy matriekjaar in 2009 reg voor hul huis in Springs tydens ’n rooftog met ’n mes in die rug gesteek. Hy het hospitaalbehandeling gekry, omdat die lem sy long binnegedring het.

You can read the full story on our App. Download it here.
Check Also
Close
Back to top button