Bruisende massa spoel oor Loskopdamwal
Met beide die Middelburg- en Witbankdam se sluise wat oop is, bruis die water in massas oor Loskopdamwal.
Verskeie mense het reeds foto’s en video’s gestuur van Loskopdam wat oorloop.
André Booyens het ’n besondere video gestuur waar die mis sommer so staan met die reuse waterval oor die wal.
Daar was ook interessante foto’s soos die foto wat Sheila Richards geneem het van die die stootskraper wat gister oor die laagwaterbruggie gery het, terwyl die Klein Olifantsrivier vol in vloed was.
Sy en haar dogter, Anthea Maré, het gaan kyk hoe die water oor die brug spoel en die stootskraper sien aankom.
“Ons het vir hom beduie dat ons bly is hy is veilig oor, waarna hy vir ons duim in die lug dankie gesê het,” sê Anthea.
• Die Middelburgdam se sluis is die afgelope twee weke reeds drie keer oopgemaak. Sondag is een van die sluise oopgemaak en die sluis is steeds oop. Dit is die rede hoekom die Klein Olifants vol in vloed is.
• Damopsigter David Nonyana sê die vlak het vanoggend steeds op 95.48% gestaan, maar dat die sluis oop bly, omdat die inloop nog hoog is. Hy het nie ’n aanduiding gegee wanneer die sluis toegemaak gaan word nie.
• Wimpie van Zyl vertel dat hy vroeg vanoggend op die N4 gery het. Terwyl hy oor die brug tussen Middelburg en eMalahleni gery het, het hy opgemerk hoe sterk die Olifantsrivier loop en vinnig met sy selfoon ’n foto of twee geneem.
• Die weerburo het nog reën vir die naweek voorspel.