News

Paartjie beroof in selfde straat waar ontvoering plaasgevind het

Net twee dae nadat ’n jong man in Njalastraat ontvoer en later in die Mhluzi woongebied uit ’n voertuig gegooi is, is ’n man en vrou in dieselfde straat oor die kop geslaan en beroof.

Jan Benadie (26) is Donderdagaand omstreeks 18:30 oor die kop geslaan in dié straat en in ’n kar geboender.

Etlike ure later is hy in Mhluzi deur sy aanvallers uit die voertuig gegooi en aangesê dat hy moet hardloop. Die ontvoerders het gesê hulle gaan hom skiet.

Hy was nie doodseker watter tipe voertuig hulle gery het nie, aangesien hulle hom herhaaldelik oor die kop geslaan en hy sy bewussyn verloor het.

Saterdagaand het rowers wéér toegeslaan. Dié keer op ’n paartjie wat tydens beurtkrag omstreeks 21:00 opgestap het in Njalastraat.

Hulle het later gesê dat ’n wit Volkswagen Golf by hulle gestop en hulle is oor die kop geslaan met ’n rewolwer.

Lees ook: Bloed spuit uit kopwonde toe hoor slagoffer hoe word wapen gespan

Die rowers het hulle selfone, skoene en die man se bankkaart geroof. Hulle het hom aanhou slaan, totdat hy sy pinnommer vir hulle gegee het.

Nadat die aanvallers weggejaag het, het die paartjie na die naaste huis gehardloop en hulp ontbied.

Lede van die GPF en radiogroep (Sektor 4), asook reaksielede van Afriforum het hulle na die toneel gehaas. Hulle het ook ’n paramedikus ontbied, om die paartjie te ondersoek.

Dit was baie bedrywig die aand met verskeie ongelukstonele en die polisie moes bontstaan om by alles uit te kom. Die lede het besluit om die paartjie self polisiestasie toe te vat vir verklarings.

•Daar kan tereg gevra word of dit dieselfde aanvallers is wat beide Jan en die paartjie aangeval het.

Back to top button