News

Seuntjie vryf oor magie terwyl pa bedel

Die man en vrou wat hul sesjarige seuntjie misbruik het om te bedel vir geld in Middelburg, het waarskynlik Boksburg toe gevlug.

Cecilia (in eMalahleni bekend as Dora) en Francois Theunissen is Donderdag nog met hul seuntjie by besighede by die Midwater Sentrum in Middelburg gesien. Nadat ’n joernalis haar gekonfronteer het, het hulle uit die dorp verdwyn.

Theunissen se familie (wat anoniem wil bly) het intussen www.mobserver.co.za gekontak en gesê hulle soek na die twee om die seuntjie by hulle weg te vat, omdat hulle dwelmslawe is.

Lees ook: Dorp sien rooi oor egpaar wat kind glo misbruik

Die familie was ook vies omdat hulle die kind gebruik om op mense se gevoelens te speel.

’n Paar mense het die twee Vrydag opgemerk.

Me. Chantalle van Heerden sê sy het Vrydag omstreeks 10:00 die man en seuntjie by Reyno Rif gesien, toe sy haar kar laat was het. Francois het na haar toe gestap met sy seuntjie by hom en vir haar gesê hulle benodig petrolgeld om in Boksburg te kom.

“Ek het gesien die seuntjie is baie vuil. Ek het ook vir die seuntjie gesê: ‘boetie, jy moenie so tussen die kar deurhardloop nie. Hulle gaan jou raakry! Die man het met sy gebedel in die omgewing, nie eers gekyk wat die kind doen nie!”

Francois (Cois) Theunissen misbruik, soos sy vrou, hul sesjarige seuntjie om op mense se gevoelens te speel vir geld.

Me. Van Heerden wou nie vir hom die kontant gee nie en het vir die petroljoggie R100 gegee om in hul voertuig te gooi.

“Terwyl ek wegstap, het die seuntjie opsigtelik oor sy magie gevryf. Ek weet nie of hy regtig honger was en of hy ook nou al geleer is om saam te speel met die gebedel, sodat hulle meer geld en kos kan kry nie. Ek was spyt omdat ek nie maar vir hom ’n pasteitjie ook gekoop het nie.”

Sy het gesien hoe hy en die kind in ’n wit Uno klim en na die petrolpompe ry. ’n Vrou, wat vir haar baie bekend gelyk het, het kort daarna by hulle aangesluit. Op pad huistoe, het dit haar bygeval dat sy hulle al voorheen in eMalahleni gesien het.

“Ek het besef dit is dieselfde vrou wat ’n paar jaar gelede met ’n baba in ’n stootwaentjie by huise in Reyno Rif, Del Judor en Klipfontein in eMalahleni gebedel het. Later het ek haar alleen in eMalahleni se strate sien bedel.”

Tuis het sy op www.mobserver.co.za gesien dat daar na die paartjie en die kind gesoek word, waarop sy dadelik gebel het.

•Mnr. Piet Pieterse (van Middelburg) vertel dat hy hulle Vrydag vanaf Middelburg na Johannesburg op pad was om aan ’n motorwedren daar deel te neem.

Lees ook: Familie sê ‘paartjie wat met kind bedel is dwelmverslaafdes’

Omstreeks 13:00 het hulle by die Plaza Total Vulstasie tussen eMalahleni en Johannesburg gestop om koeldrank te koop.

’n Vrou het by die geriefswinkel se deur gestaan en vir geld gevra.

“Net twee treë van haar af het die man en seuntjie gestaan. Sy het die praatwerk gedoen en gevra vir petrolgeld. Volgens haar was hulle op pad Boksburg toe.”

Mnr. Pieterse het geweier om vir hulle geld te gee. Kort daarna het hy gesien hoe die vrou met ’n sak loop tot by ’n Uno en die sak in die Uno sit.

Hy het ook later op www.mobserver.co.za gesien dat die man se familie na hulle soek om die kind te help.

•Die familie van Theunissen sê die seuntjie was veilig by sy ouma en dat hy ook in ’n kleuterskool was. Hulle is baie bekommerd oor sy welstand en sê dat hy volgende jaar moet skooltoe gaan.

Na die berigte het hulle Middelburg en eMalahleni gefynkam, maar kon hulle nie opspoor nie. Die paartjie se selfone is ook af.

Hulle vra dat indien enige persoon die paartjie met hul Uno en die blondekop seuntjie sien, om Daleen Naude te bel by 013 243 1434, of www.mobserver.co.za se bystand nommer by 072 248 3855.

Back to top button