News

Oudste inwoner aangerand

Hendrina se oudste inwoner, Stirie Sckeurkogel (97), is wreed aangerand.

‘n Strykyster wat uit die kas gehaal is en reeds in die kamer by ‘n muurprop ingedruk was, was die stille dreigement van wat die wreedaards nog vir mnr. Sckeurkogel in gedagte gehad het.

Een van mnr. Sckeurkogel se bure, wat uit vrees versoek het om anoniem te bly, vertel van die oomblik toe hulle met skok agter gekom het dat “Oom Stirie” nie geval het soos wat hulle aanvanklik gedink het nie.

Die vrou sê dat hulle mnr. Sckeurkogel die oggend net voor agt gesien het toe hy sy hek kom oopsluit het.

Hy was nog in sy nagklere.

Net na 09:00 het sy dogter vanuit Johannesburg gebel en gevra dat hulle gaan kyk waar haar pa is omdat hy nie sy foon antwoord nie.

Kort daarna het sy weer gebel en gesê dat hy sy foon geantwoord het maar vir haar gesê het dat hy nie weet wie of waar hy is nie.

Die bure is na sy huis waar hulle na mnr. Sckeurkogel geroep en aan al sy vensters geklop het.

“Ons het ‘n beweging binne in die huis gesien. ‘n Rukkie daarna het ‘n bebloede hand die gordyn weggeskuif. Ek het dadelik gedink dat oom Stirie geval en homself seergemaak het.”

Stirie Sckeurkogel (97) kort nadat hy deur bure in sy huis gevind is.
Stirie Sckeurkogel (97) kort nadat hy deur bure in sy huis gevind is.

Met ‘n groot gesukkel kon mnr. Sckeurkogel vir hulle ‘n sleutel deur die venster aangee, sodat hulle toegang tot die huis kon verkry.

“Toe ons ingaan, gee om Stirie se bene onder hom pad. Ons het hom gegryp en gehelp tot by ‘n stoel. Dit is toe dat ons sien daar is mediese verbande om sy polse en nek gebind en dat sy bene met skoenveters vasgebind is. Toe besef ons eers wat moes gebeur het.”

Volgens die vrou was mnr. Sckeurkogel heeltemal deurmekaar. Hy het glo heeltyd gevra “Waar kom al hierdie bloed vandaan?”

Die polisie en ‘n dokter is na die toneel ontbied. Mnr. Sckeurkogel is vermoedelik met ‘n slotskuifmoer in die gesig geslaan.

Hy is ook gewurg met die verband om sy nek. Soos wat mnr. Sckeurkogel meer van die voorval kon onthou, het hy vertel dat hulle hom verskeie kere gewurg het.

Buiten vir sy beursie, wat nie veel geld ingehad het nie, is daar niks anders in sy huis gevat nie.

Die teenwoordigheid van die strykyster dui daarop dat sy aanvallers beplan het om mnr. Sckeurkogel nog verder te martel.

Hulle is vermoedelik skrik op die lyf gejaag toe iemand tussen 08:00 en 09:00 voor mnr. Sckeurkogel se huis sy motor se toeter geblaas het om hom te roep. Die Hendrina Polisie is tans besig om die voorval te ondersoek.

•Mnr. Sckeurkogel sal voortaan by sy dogter in Krugersdorp bly. Hy sterk tans daar aan.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button