News

Swartmamba en skyfies, ag ek bedoel vis en skyfies asseblief!

Die Springbokkafee verkoop nou deesdae slang en chips, ag ekskuus tog, vis en chips!

’n Twee meter lange mamba het Maandagmiddag vir konsternasie gesorg toe hy tussen die hondekos op die stoep voor Springbokkafee in Kanonkop sy kop uitgesteek het.

Mnr. Hamid Hamroun (Springbokkafee) vertel dat ’n kliënt laatmiddag vir hom gesê het dat hy ’n mamba tussen die hondekos op die stoep opmerk.

Die bekende paartjie, mnr. en mev. Rassie en Jeanette Erasmus, was ook in die omgewing en mnr. Erasmus het met die hulp van die kliënt die gevaarlike slang aan sy stert beetgekry. Jeanette het ook hulp verleen.

Die kenmerkende swart bek van die swartmamba.

Mnr. Erasmus het die slang oor die parkeerarea gesleep en tussen die plante op die sypaadjie laat inseil.

Mnr. Hamroun sê hy het vir veiligheidsredes dadelik die winkel se deure toegemaak en daaragter geskuil. Hulle het ook dadelik die herpetologiese vereniging gebel.

Mnr. Victor Boshoff (voorsitter, Middelburg Herpetologiese Vereniging) sê hy het gedink dit is dalk net ’n molslang wat al die drama veroorsaak. Hy en twee ander lede van die herpetologiese vereniging, Darren (sy seun) en Donovan Drennen, het gaan ondersoek instel.

“Hulle was binne vier minute hier en daarvoor moet ons vir hulle dankie sê,” het mnr. Hamroun dankbaar gesê.

Met nadere ondersoek tussen die plante het mnr. Boshoff die mamba se kleur herken en blitsig die slang van meer as twee meter gevang.

Die slang was vol bosluise op sy kop. Hulle het reeds die bosluise verwyder en sal die slang later hierdie week in sy natuurlike omgewing in die Loskopvallei gaan loslaat.

Mnr. Rassie Erasmus het met die hulp van ’n onbekende persoon die swartmamba onder beheer probeer bring.

Mnr. Boshoff sê dit was baie onverantwoordelik van mnr. Erasmus om die swartmamba aan sy stert beet te kry.

“Daardie slang is een bondel spiere. Al kry jy hom aan die stert beet, kon hy opgekom en ’n klomp mense gepik het. In my 30 jaar wat ek met slange werk, het ek nog nooit ’n swartmamba aan sy stert gevat sonder ’n slaghaak nie. Hy is net te vinnig en te gevaarlik.”

Mnr. Boshoff sê dit is ’n algemene feit dat mambas 6.7myl per uur op ’n gladde oppervlak en 11.5 myl per uur in sy natuurlike habitat in bosse kan beweeg.
Die swartmamba het neurotoksiese gif, wat beteken dat die diafragma aangeval word en die persoon binne ’n kort tydjie sukkel om asem te haal.

“As die swartmamba jou in die gesig, nek of bors pik, kan jy binne ’n halfuur sterf. Baie mense weet nie eers hulle is gepik nie, omdat sy byt baie keer pynloos is en hy so vinnig pik.”

Fanie Strydom en Victor Boshoff met een van die swartmambas wat hulle al gevang het.

Alle mense wat deur swartmambas gepik word, moet antiserum kry. Hy het vertel van ’n voorval ’n paar jaar gelede op die Stoffbergpad, waar die persoon 15 ampules antiserum moes kry om sy lewe te red, nadat hy deur ’n swartmamba gepik is.

• Niemand weet waar die swartmamba vandaan kom nie. Mnr. Boshoff sê die slang kon van ’n bosveldgebied soos Stoffberg of Loskop se area in ’n kar se onderstel saamgery het en voor die winkel net uitgeseil het tussen die hondekos in.

• Alhoewel swartmambas eintlik in bosveldgebiede voorkom, het mnr. Boshoff en ander lede van die herpetologiese vereniging al ’n paar keer swart mambas in Middelburg en die omgewing, soos by Presidentsrus, gevang.

In 2015 is ’n reuse mamba en 2.85m in Zuidstraat in ’n motorhuis gevang en ’n paar maande later, in Februarie 2016, is ’n swartmamba van drie meter lank op die Klipfonteinplaas (19km uit op Loskoppad en dan nog 15km tot op plaas) gevang.

In 2018 is ’n swartmamba doodgery in Harry Gwalastraat (Dennesig) en het mnr. Fanie Strydom (ondervoorsitter herpetologiese vereniging) ’n mamba op Presidentsrus (net buite Middelburg) gevang.

Me. Karin Boshoff met ’n swartmamba wat die herpetologiese vereniging gevang het.

Mnr. Boshoff skryf die toename van swartmambas in die Hoëveld toe weens osoonverhitting.

Hulle is al lank besig om die distrubusiekaarte van slange te verander. Hy sê dat slangspesies al hoe meer in gebiede voorkom waar hulle nooit voorheen voorgekom het nie en is hulle besig om dit in Mpumalanga te monitor.

• Hy nooi dokters en spesialiste, asook mense wat deur slange gepik word om hom te kontak. Deur net na die bytplek te kyk, kan hy identifiseer watter slang die persoon gebyt het.

• Met alle giftige slange word dieselfde antiserum gebruik, buiten vir die takslang (ook voëlslang genoem). Met hierdie slangbyt moet ’n bloedoortapping gedoen word.

Die slang was baie aggressief en moes Rassie bontspring om hom te probeer beheer.

• Spinnekopbyte raak ook bykans elke jaar erger. Mnr. Boshoff sê hy het die afgelope jaar al 720 spinnekopbyte regoor die land geïdentifiseer. Hulle kry vyf tot ses spinnekopbyt-foto’s per week, waartydens hulle die spinnekoppe moet identifiseer. In Middelburg is die meeste spinnekopbyte dié van die sakspinnekop.

• Persone wat wil hê dat lede van die herpetologiese vereniging slange moet verwyder, moet weet dat die slang dopgehou moet word.

“Ons gaan beslis nie uitkom as jy die slang gister gesien het nie, want dan is hy lankal op ’n ander plek.”

Mnr. Boshoff kan gekontak word by 082 697 9954 en mnr. Strydom by 079 606 8374.

• Die video is geneem deur me. Thandi Mahlangu (werknemer, Kanonkop Moms Apteek).

Back to top button