News

Die Spook van Tienie Benade klop aan kerk se deur

“Die Klaagliedere van Dominee Tienie Benade” is nie net ’n toneelstuk en ’n fliek nie - twee “verkoop bordjies” langs die Gereformeede Kerk in Kanonkop op Middelburg, wys dat die “Spook van Tienie Benade” aan die kerk se deur kom klop het.

Daar word gegons op die dorp, na gerugte dat die kerk aan “Moslem sakemanne” verkoop is.

In die toneelstuk en film is ds. Tienie Benade ’n middeljarige predikant van die Moedergemeente. Sy gemeente se getalle daal drasties, die skuldlas groei en sy senior kerkraadslede is dwarstrekkerig en te oud om van hulp te wees.

In die fliek word die vraag gevra of daar nog ’n plek vir die kerk en ’n dominee in die samelewing is.

Na ’n voorval met ’n sterwende hawelose kom dominee Tienie voor ’n kruispad en hy twyfel of hy nog ’n doel dien. Sy onsekerheid word in hoop omgeskakel en hy glo uiteindelik weer dat hy wel ge­roep is en dat die gemeente hulle deure vir almal moet oopgooi.

Maar by die Gereformeerde gemeente op Middelburg het hoop te laat gekom.

Alhoewel die gerugte dat “Moslem sakemanne” die kerk gekoop het, nie waar is nie, het Dalene Grobler van RE/Max Middelburg, bevestig dat die kerk in die mark is vir R4.4 milj.

Vir die omgewing ’n winskopie, want jy kry ’n massiewe gebou, koelkamers en industriële kombuis.
Inwoners het reeds voorgestel dat die kerk in ’n kultuursentrum omskep word.

Ouderling Ben van Wetten het bevestig dat dalende getalle die gemeente genoop het om die kerk te verkoop. Daar word beplan om met die Moedergemeente saam te smelt.
Dr Francois Kruger wat 33 jaar ’n leraar van die gemeente was voor sy aftrede, het gesê dit is vir hom hartseer dat die kerk verkoop word.

Die huidige predikant, ds Zander Van’t Zand, het gevra dat vrae oor die verkoop van die kerk aan die kerkraad gerig word, sodat hulle daarop kan reageer.

Back to top button