Municipal

Slaggat protes

Die DA gaan Maandag die ou Belfastpad beset in protes teen die paaie departement se kansvattery met fondse wat verlede jaar reeds deur die wetgewer goedgekeur is om die eerste agt kilometer van die pad tot by die Middelburgdam te herbou.

“Ons vermoed die fondse is nie meer beskikbaar nie en dit skep ‘n reuse probleem omdat daar volgende week ‘n nuwe wetgewer gekies word,” het die DA leier, mnr. Anthony Benadie, Dinsdag gesê.

Hy sê dat alle navrae oor die pad, wat tot hede openlik deur die departementshoof beantwoord is, na die LUR vir paaie, me. Dikaledi Mahlangu, verwys word.

Mahlangu is ‘n uitgaande lid van die wetgewer wat nou na die parlement mik.

“Ons sal nou van voor af moet begin met ‘n nuwe uitvoerende kabinetslid,” vrees Benadie wat soos ‘n druppende kraan by die LUR was oor die pad.

Altesaam R22 miljoen is verelede jaar vir fase 1 van die pad deur die wetgewer bewillig.

Die departement sou in die 2014/2015 boekjaar R92 miljoen bewillig en die daaropvolgende jaar R64 miljoen om die pad tot by Wonderfontein te rehabiliteer.

Die projek sou in Augustus 2015 voltooi word, maar mnr. Benadie sê dit blyk of die departement nie van plan is om sy beloftes na te kom nie.

Die departement se ses weke sperdatum om met die konstruksie van die eerste agt kilometer te begin, het al voorverlede week verstryk.

Die DA het reeds aansoek vir die protesaksie by die SAPD en verkeersdepartement ingedien en het Woensdag met beide ontmoet vir beveiliging.

Observer navrae vir die departement was teen druktyd steeds nie beantwoord nie.

gerhard@mobserver.co.za

One Comment

  1. My ma en klomp ander werkers van Rectoshing “spelling” ry elke dag daai pad!! Dis tyd om saam te Toi Toi!! Kla met die gate!!!

Back to top button