News

Video: Opruimingswerk begin na drie damwalle breek weens wolkbreuk

Opruimingswerk het vanoggend by Pienaardam Ontspanningsoord begin nadat drie damwalle gister gebreek het weens ’n wolkbreuk omstreeks 14:00.

Pienaardam bestuurder, Venessa van Niekerk, het vir www.mobserver.co.za gaan wys waar die damwalle weens die geweldige massas water meegesleur is.

Sy het gemeld dat eers ’n damwal van ’n myn hoër op gebreek het, waarna dit twee van hul damme meegesleur het. Gelukkig het hul groot dam die massa water hanteer, want as dié wal sou breek, sou die water gesorg het vir oorstromings in Eastdene.

Pienaardam bestuurder, me. Venessa van Niekerk, by die tweede damwal wat meegesleur is. In die agtergrond kan van die skade gesien word.

 

Me. Van Niekerk sê hulle kan nie presies bepaal hoeveel reën geval het nie, aangesien die reënmeter oorgeloop het, maar hulle vermoed dit het sowat 120mm in minder as ’n uur gereën.

Weens die geweldige wind en massas water, moes die kampers vlug met die onderste dam wat binne minute tot barstens toe vol was en opgestoot het tot waar hulle gekamp het.

Die kampers is in sale vir die nag geakkommodeer en het personeel vroeg vanoggend hul klerasie en beddegoed gaan haal om te was en droog te maak.

Die kampers is in sale geakkommodeer, nadat die onderste damwal sy walle oorstroom het waar daar gekamp is. Dié groep kampers is vanoggend afgeneem waar hulle besig was om hul beddens en tente uit te gooi op die gras om droog te word. Henco Potgieter, André du Plessis (jnr), André du Plessis
(snr) en Jordan Klopper.

 

Me. Van Niekerk het gemeld dat daar ook ’n groot stroom water gespoel het deur die Hartlandsaal en dat die water tot byna teen die vloeroppervlakte van die kapel gestyg het.

Alhoewel opruimingswerk en die herbou van die damme nog waarskynlik ’n paar maande gaan duur, is dit “business as usual” het me. Van Niekerk gesê.

Die sale wat water binne gekry het, is reeds skoongemaak en gaste sal steeds geakkommodeer kan word.

Buiten die opruimingswerk, is daar ook spanne ingehuur om die wildheining weer op te sit, wat met die water meegesleur is.

*Hulle kan nie op hierdie stadium bepaal wat die presiese omvang van die skade is nie, maar dit is duidelik dat dit miljoene rande kan beloop.

In dieselfde tyd het ‘n wolkbreuk by Forever Resorts Badplaas miljoene rande se skade aangerig en is groot gedeeltes van hierdie vakansie-oord weggespoel.

 

 

Check Also
Close
 
Back to top button