News

Kaptein Booyse die kroek

’n Boer uit die Stoffbergomgewing is uit R2 000 bedrieg deur ’n man wat hom as polisie kaptein voorgedoen het.

Die boer, wat nie sy naam genoem wou hê nie, sê dat daar ses verse by hom gesteel is. Hy moes die voorval by die Zaaiplaas Polisiestasie aanmeld.
Die boer en sy gesin was nie tuis nie en het die saak telefonies aangemeld.

Kort nadat die saak die oggend aangemeld is, het die Zaaiplaas Polisie, om en by 11:00, gebel om die beeswagter se verklaring af te neem. Teen 15:00 is die boer deur ’n “kaptein Carel Booyse” van die polisie se veediefstaleenheid in Marble Hall gekontak.

Lees ook: ‘Net gou’ selle toe vir twee aande – skokwending in boer se arrestasie

“Ek het nogal vir hom gesê dat dit die eerste keer is wat ek van hom hoor. Ons werk gereeld met veediefstal se lede so ons ken meeste van die lede wat daar werk. Hy het gesê dat hy net vir ’n rukkie uithelp,” vertel die boer.

Buiten vir die boer se kontak besonderhede, het kapt. Booyse ook kennis gehad van waar en hoeveel beeste gesteel is. Die boer was glad nie agterdogtig nie.
Kapt. Booyse het telkemale gebel om seker te maak oor die gesteelde beeste se brandmerk en beskrywing. Op ’n stadium het hy aan die boer gesê dat hy sy beeste by ’n skut teen die Botswana grens opgespoor het. Die toestande waaronder die beeste aangehou is was haglik en die diere moes so gou moontlik verwyder word.
“Jy is so desperaat om jou beeste terug te kry. Ek was in ekstase toe ek die nuus kry,” vertel die boer.

Hy was van plan om met ’n waentjie na die grenspos te ry, om sy beeste te gaan oplaai. Die kaptein met wie hy toe al telke male oor die foon gepraat het, het egter gesê dat hy sal reël dat die beeste saam met een van die trokke gestuur word. Hy sou persoonlik die trok vergesel om seker te maak dat die diere veilig op Stoffberg aankom.

Lees ook: Twee sterf op N4 

“Ons het soos swape die laaibank opgestel sodat die beeste in die nag afgelaai kon word.”
Die boer is later deur ’n ander man gebel wat gesê het dat hy die trok bestuur. Hy het R2 000 gevra vir brandstof en tolgeld.
“Omdat ek self baie met die trok ry, het die bedrag heel billik geklink.”

Hy is verduidelik hoe om die geld oor te betaal, sodat dit by enige Spar getrek kon word.
“Ek het niks vermoed nie. As jy sy oproep gemis het en jy bel terug het hy geantwoord of het ’n konstabel geantwoord, wat gesê het dat hy die foon vir die kaptein sou gee, dan praat jy met hom,” sê die boer.

Nadat hy die geld oorbetaal het, het hy nooit weer iets van kapt. Booyse of die trokbestuurder gehoor nie.
“Ek het toe besef dat ek ingedoen is. Ander boere moet wakker wees, want hierdie ou is seepglad,” sê die boer.
Daar word vermoed dat die swendelaar toegang het tot vertroulike inligting omdat hy sekere dinge geweet het wat net op die dossier staan.
“Hy het iemand by die polisie wat hom met inligting voer.”
Daar is later bevestig dat daar nie ’n kaptein Booyse by Marble Hall se veediefstaleenheid is nie.

Lees ook: Straat rowers bedrywig by Poskantoor

• Die Middelburg veediefstaleenheid het aan die begin van die jaar gewaarsku oor ’n soortgelyke slenter. Talle boere is deur ’n kapt. Vilakazi gebel en ingelig dat hul gesteelde beeste teruggekry is. Hulle moes dan geld oorbetaal sodat hy ’n waentjie kon huur om daar en dan die beeste te laai en aan hul terug te besorg.

• Die polisie se provinsiale woordvoerder, brig. Leonard Hlathi, het Woensdag slagoffers van misdaad gewaarsku teen kansvatters. Dit nadat klaers in veral diefstalsake gekontak word deur mense wat hulle as polisielede voordoen. Hulle word ingelig dat hul gesteelde goedere of voertuie teruggevind is maar dat die proses om dit aan die eienaars terug te gee, tydsaam kan wees. Eienaars word dan aangeraai om ’n bedrag geld te betaal om die proses te systap. Sodra die boewe hul geld het, verdwyn hulle soos mis voor die son.

Die provinsiale polisie kommissaris, lt. genl. Mondli Zuma sê dat die polisie se dienste gratis is en dat die publiek nooit versoek sal word om geld te betaal om kriminele sake op te los of gesteelde goedere terug te besorg nie.

 

Lees ook:

VIDEO: Gys groet na 26 jaar

Nigerian assassinated in front of house

 

Kry ons nuusbrief

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Soek jy nuus op ‘n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Het julle vir ons ‘n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

Check Also
Close
 
Back to top button