Crime

Veiligheidsman beweer bedrog van R100 000

’n Plaaslike sakeman is R100 000 armer nadat hy na bewering daaruit bedrieg is.

Mnr. Willie Cloete het spesiaal ’n lening aangegaan om te belê in ’n sagtewareprogram wat onder meer aanlyn risikobepalings, veiligheid oudits en die aanlyn bestuur van veiligheidslêers kan doen.

Hy is deur mnr. John Killian van Safety Solutions Africa (SSA) in Durbanville ingelig dat die ontwikkeling van die program rondom R4 miljoen is.

Lees: Bedrog uit tronkselle

Mnr. Cloete beweer dat daar ’n waarborg was dat SSA binne weke ’n eksklusiewe kontrak met die Spar groep gaan teken, om beroepsgesondheid en veiligheidsdienste te verskaf.

Hy beweer verder dat hy oorreed is om in die besigheid in te koop, nadat hy onder die indruk gebring is dat SSA ook die voorkeur diensverskaffer vir SAMBRA (SA Motor Body Repair Association) is.

“Daar is gesê dat mnr. Killian in besit is van ’n vrywaring van die arbeidsdepartement vir eksklusiewe gebruik deur SAMBRA lede. Hulle het my met die gedagte gelaat dat alle SAMBRA lede kontrakte met die SSA sou teken, sodra ’n Mpumalanga vennoot beskikbaar is,” sê mnr. Cloete.

Lees: Vele kla oor Johan Pelser

Die inligting is alles glo in ’n Johannesburgse koffiewinkel met mnr. Cloete gedeel, waarna hy Kaap toe genooi is om hom te gaan vergewis van die SSA opset.

Tydens ’n vergadering, waar mnr. Jaco Odendaal van Alwyn Bamberger Finansiëledienste ook teenwoordig was, is bevestig dat die SSA ook in besigheid is met dié finansiëlediens maatskappy, “wat nooit ontken is deur mnr. Odendaal nie”.

Mnr. Cloete sê dat hy ook onder ’n indruk gebring is dat die Deeghuys groep van die program sou gebruikmaak.

Lees: Ek wil nou net die stukke optel

’n “Skynvergadering” is na bewering toe met die “nasionale franchise houer van die Deeghuys,” by een van die takke gereël, maar hy kon dit nie bywoon nie.

Op 28 September het mnr. Cloete, onder die indruk dat daar nasionale kontrakte is, besluit om die lening te maak en die geld is oorbetaal.

Toe mnr. Cloete eindelaaste op 6 Oktober tot die netwerk toegevoeg is, het hy met skok gevind dat die belowende sagteware program niks meer is as ’n derdepartybestuurder besigheidsbemarkingsprogram nie.

Mnr. Cloete het ’n rot geruik en navraag gedoen by mnr. Odendaal wat hom toe ingelig het dat die Spar kontrak nog geensins beding is nie.

Lees: Gesoekte vrou pleeg selfmoord na polisie toeslaan

Met verdere ondersoek is mnr. Cloete deur plaaslike SAMBRA lede “weggejaag weens swak diens aan die lede”.

Op 15 Oktober het die bom gebars toe mnr. Cloete ’n e-pos, onder meer geadresseer aan mnre. Killian en Odendaal, gestuur het waarin hy sy eie besigheid van SSA gedistansieer het.

Odendaal het dadelik laat weet dat daar geen finansiële wisselwerking tussen sy firma en SSA is nie.

“Ek voel ek is openlik mislei en dat geld, wat ek moes leen, by my gesteel is. Om alles te kroon sê die polisie dis ’n siviele saak en dat daar geen bedrog gepleeg is nie,” kla mnr. Cloete.

Lees: Gawe oom lekker skelm

Hy was intussen weer by die polisie om aan te dring dat ’n klag van bedrog geopen word.

Mnr. Killian het die bewerings ten sterkste ontken en op vraag of hy mnr. Cloete opsetlik mislei het geantwoord: “Absoluut nee!”.

Hy sê die bewerings is vals.

Mnr. Odendaal het gesê dat hy gaan nie kommentaar lewer op die bewerings nie en gesê dat hy verdere vrae na sy prokureur sal verwys vir korrespondensie.

Back to top button