Crime

Vuur lok boer uit huis

’n Boer en sy vrou is oor die naweek kort voor middernag uit hul huis gelok toe iemand die veld elders op hul plaas aan die brand gesteek het.

Johan en Leonora Kruger boer langs die Wapadskloofpad naby Stoffberg. Hulle het Saterdagnag, net na 23:00 ’n vuur in die veld naby hul huis opgemerk. Die Kruger egpaar en van hul werkers het daarheen gehaas om dit te blus.

“Die wind het gaan lê en ons het die vuur maklik onder beheer gekry,” sê mev. Kruger. Hulle was skaars ’n halfuur later terug by die huis. Hulle het twee jong Jack Russell hondjies en maak as gevolg daarvan die deur wat na die slaapkamers lei toe, sodat hulle nie daar verwoesting kan saai nie.

Mev. Kruger sê dat hulle besig was om koffie te drink, toe hulle sien dat die vuur weer ontvlam het.

Nadat dit vir die tweede keer geblus is, is die egpaar weer terug huistoe.

“Die twee hondjies het vreeslik tekere gegaan en by die deur wat toe was, gegrom en geblaf,” sê mev. Kruger.

Toe hulle die deur oopsluit het totale chaos hulle begroet.

Mnr. Kruger het verbaas uitgeroep “Kyk hoe lyk die kamer!” Boewe het al hul klere uit die kaste gegooi op soek na waardevolle items.

Mev. Kruger vermoed dat hulle of saam met die inbrekers in die huis was of minute nadat hulle weg is, by die huis aangekom het.

“Ons lewe! Dis die belangrikste. Dit kon soveel erger gewees het.”

Hulle vermoed nou dat die vuur vir ’n tweede keer aangesteek is, omdat hulle dalk te vinnig terug by die huis was.

“Moet onder geen omstandighede sommer net uit jou huis gaan so laat in die nag nie. Maak eers alarm. Bel die bure, wag dat hulle opdaag,” waarsku mev. Kruger.

Die polisie ondersoek ’n klag van huisbraak. Daar is tot op hede nog geen arrestasies gemaak nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button