NewsUpdateBreaking News

Opvolg: Seun oor plaasaanval: ‘Dit kan nie met my gebeur nie’

“Ek onthou net ek het gedink, ‘Dit kan nie met my gebeur nie,” was die woorde van Bernard Botha gisteraand in ’n volgepakte Distrik Landbou Unie saal, net ’n dag nadat sy pa, Herman, in ’n plaasaanval gesterf het.

Groblersdal se Landelike Veiligheidgroep bestaan skaars meer as ’n jaar en dié vergadering is gehou vir alle lede van die gemeenskap, die Vallei se boere, sekuriteitsmaatskappye, asook die verskeie buurtwag-groepe.

Die doel van die vergadering was om die die plaasaanval te bespreek en om aandag te gee aan die lesse wat geleer kan word.

Bernard het vertel dat hul onverwags, helder oordag, om 11:00 Sondag op hul plaas aangeval is. Hy en sy pa het voer na die beeste geneem, waarna hul teruggekeer het na die plaashuis.

Me. Meisie en mnr. Herman Botha.

“Ek het my pa by die huis afgelaai, aangesien hy solank die vuurtjie vir ’n braai wou aansteek. Terwyl my pa die braaier uit die motorhuis gehaal het, het ek weer gery na een van die spilpunte. Wat ek egter nie geweet het nie, is dat daar reeds verdagtes in die motorhuis was,” sê Bernard.

Mnr. Botha is deur die aanvallers vasgekeer en hard oor die kop geslaan, waarna hul hom vasgebind het.

“Ek het niks vreemd opgemerk nie, ek het verby die store gery en niks verdag gesien nie. Ek onthou toe ek by die huis gestop het, het een van die die honde nog rustig op die gras gelê. Kort na ek van die spilpunte afgekom het, het ek ingestap waar dié mans my ingewag het. Almal was gewapen. Ek onthou ek het gedink: ‘Dit kan nie met my gebeur nie” .

Lees vorige stories hier:

Plaasaanval: Boer dood voor helikopter hom kan oppik

Opvolg: Boer wat vermoor is was kolonel in kommando

Die gewapende mans het Bernard op die grond gegooi en vasgebind. Hulle het hom geslaan en geskop en hom rondgesleep.

Die aanvallers het mnr. Botha se voertuig vol vuurwapens gelaai, waarna hul nog geskarrel het met voertuie se sleutels.

“Ek het ’n voertuig gehoor en besef dat my ma, Meisie, my vrou, Benita, en kinders op pad terug is van die kerk af. Ek wou skree maar die mans het ’n boks in my mond gedruk.”

Hy vertel dat die kinders glad nie vasgebind is nie en dat die gewapende mans die kinders verbasend sag hanteer het, die vrouens is ook sagter hanteer.

Die aanvallers het die vuurwapens vanuit mnr. Botha se voertuig oorgeskuif na die Toyota Etios waarmee die vrouens gery het en vanaf die toneel gevlug.

Mnr. Botha het daarin geslaag om homself te bevry van die toue en draad wat gebruik was om hom vas te bind.

“My pa was baie deurmekaar en hy het reeds baie bloed verloor, maar hy kon steeds daarin slaag om my en die vrouens los te maak, waarna hy die noodoproep gemaak het.”

Bernard en Benita Botha.

Hy vertel dat hy na die voorval saam met een van die polisielede deur die huis gestap het, waar hul die plas bloed in die badkamer opgemerk het, waar hy aanneem sy pa vasgebind was. Hy sê dat daar selfs lappies gelê het waar sy pa moontlik probeer het om die bloed te stop.

“Ek dink net mens is geneig om meer paraat in die nag te wees as helder oordag,” het hy vir die boere gesê.

Mnr. Willem Bouwer, voorsitter, het tydens die vergadering gesê dat niemand so ’n voorval kan systap nie, maak nie saak hoe paraat die persoon dink hul is nie. Hy het gesê dat dit vir hom hartseer is om dié vergadering te open want hy weet dat mnr. Botha altyd teenwoordig was met vergaderings wat gehandel het oor die Vallei se veiligheid.

“Ons is dankbaar wat hy vir ons as boere, gemeenskap en veiligheidsman beteken het,” het mnr. Bouwer gesê.

• Mnr. Botha is deur Swift Emergency Medical Services na Groblersdal se rugbyveld geneem, waar ’n helikopter mnr. Botha na Pretoria sou vlieg. Mnr. Botha is egter oorlede voor die helikopter in Groblersdal kon land.

• Uitstekende samewerking vanaf gemeenskapslede, sekuriteitsmaatskappy, buurtwaglede en boere het verseker dat die Toyota Etios opgespoor is. Die voertuig is verlate naby die Loskopdam winkelsentrum gekry, met van die vuurwapens nog daarin. ’n Verdagte Toyota Fortuner is op die N11 gejaag maar verloor kort nadat dit op die Elandsdoornpad afgedraai het. Die voertuig is later verlate, sowat 20 km van die toneel af gekry.

• Mnr. Piet Groenewald (Wildlife Investigations and Protection Services) sê dat hy inligting ontvang het dat verdagtes deur ’n taxi afgelaai is en per voet op die plaas van mnr. Gideon Bresler is. Twee verdagtes is kort daarna deur boere, lede van buurtwag en sekuriteitsmaatskappye gearresteer, nadat hulle gesien loop is op die plaas. Daar is twee vuurwapens in hul besit gekry en daar is later vasgestel dat die vuurwapens in mnr. Botha se naam geregistreer was.

• Lt. kol. Moatshe Ngoepe, Limpopo polisiewoordvoerder, sê dat die polisie nog probeer vasstel aan wie die Fortuner behoort. Hy het in ’n persverklaring gesê dat die polisie ’n grootskaalse soektog na die oorblywende verdagtes geloods het. Enige iemand met inligting kan kapt. Richard Boshomane by 079 894 5501 bel.

• Mnr. Botha was die voorsitter van die Agri Loskop-veiligheidskomitee, ’n lid van die Agri Limpopo-veiligheidsraad, en ’n voormalige bevelvoerder van die Loskop-kommando-eenheid.

•Twee Zimbabwiërs, Thomas Baloyi (23) en Thobias Moyo (44), het vanoggend in die landdroshof op Groblersdal verskyn. Klagtes van roof met verswarende omstandighede en moord word teen hulle ondersoek.

Die saak is uitgestel na 17 Augustus vir regshulp en ’n borgaansoek.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button