News

Misdaad floreer terwyl magstryd woed

Nog twee klaers het na vore gekom oor Middelburg 911 GPF se voortgesette "diskriminasie" teen Afriforum Buurtwaglede.

Mnr. JP Nortjé sê hy is sonder enige waarskuwing of rede op al die Middelburg 911 kanale geblok saam met sy vrou. Hy dien steeds op die GPF as Kanonkop se wyksbestuurder en is selfs deur me. Rehana Pilodia, die GPF voorsitter, genader om ook Sektor 1 op die been te bring.

Hy het egter ‘n ruk gelede by Afriforum se buurtwaggroep aangesluit en is toe geblok.

Jarelange GPF lid, mnr. Gerhard Oostendurp, het dieselfde pad met Middelburg 911 gestap en is ook geblok weens sy lidmaatskap by die Afriforum Buurtwag. Hy is al sedert 2008 lid van die GPF en sê hy is een van min wat bereid is om dag en nag uit te gaan waar sy hulp benodig word.

Die twee mans het Woensdag hulle stemme dik gemaak nadat die Middelburg Observer in die Dinsdag uitgawe berig het oor mnr. Johan Otten wat op die 911 kanaal geblok is toe hy die afgelope naweek inligting oor ‘n botsing op die N4 deurgegee het aan die publiek.

Mnr. Oostendurp sê toe die Kanonkop/Dennesig radiogroep tot stand gekom het, het die GPF lede van 200 na 14 gedaal, maar dat hy by die GPF gestaan het.

Mnr. Gerhard Oostendurp sê hy is steeds geblok op die Middelburg 911 GPF kanale omdat hy ‘n Afriforum Buurtwaglid is.

“Ek is skielik en sonder waarskuwing geblok en kon nie eens ‘n mayday inroep nie,” sê mnr. Oostendurp.

Hy beskuldig die Middelburg 911 GPF van ‘n magstryd met Afriforum, en sê dat dit bewys is dat daar geen lojaliteit by die GPF is nie, “net ‘n wedywering vir alleenmag oor die dorp”.

Mnr. Otten, wat op Facebook uitgevaar het oor die “turf oorlog” het intussen om verskoning gevra vir sy vinnige humeur en sê dat hy sy saak met Middelburg 911 uitgepraat het.

“Ek het groot geword in hierdie mooi dorp, en kom ons werk almal saam om dit so te hou! Ons het baie om op trots te voel. Middelburg het ‘n goeie gemeenskap, goeie mense, ons het min probleme, stop hierdie turfoorlog,” sê mnr. Otten.

Mnr. Nortjé sê hy is steeds geblok soos mnr. Oostendurp, ten spyte van ‘n memorandum van samewerking wat geteken is tussen al die betrokke rolspelers, insluitende die polisie.

“Ons hande is vasgebind en terwyl jarelange teenmisdaadstryders soos ek en Gerhard nou tuis sit, styg die inbrake nou skielik weer. Kyk maar hoe min mense is werklik deesdae op die pad, want iemand wat magsdronk is trek die toutjies agter die skerms, en bôgger die res!” sê mnr. Oostendurp.

“Dit is onaanvaarbaar dat die besluit oor wie mag help en wie nie, by net ‘n handjievol mense lê.”

Mnr. Phillip Bothma, wat aanvanklik vir mnr. Otten geblok het, sê dat hulle stelselmatig besig is om al die Afriforum lede weer op die kanaal te voeg, “ons almal werk saam en Afriforum lede moet net geduldig wees, ons sal by hulle uitkom,” sê hy.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button